Terwyl die land saamstaan en spiere bult om president Jacob Zuma te onttroon, is daar ander bedreigings wat niks met Zuma en sy trawante te doen het nie wat die Weskus in die gesig staar.
Die 500-hektaar Elandsfontein private natuurreservaat aangrensend aan die omstrede KROPZ-fosfaatmyn en die Weskus Nasionale Park, kan dalk ook in mynbase se besit beland en die hele omgewing in ‘n mynveld omskep.
Volgens ‘n artikel in West Cape News het die eienaar van die private natuurreservaat, Arie Dempers, ‘n aanbod van R17 miljoen vir die reservaat van die hand gewys omdat die fosfaatryke grond glo meer as dubbel soveel werd is.
Die aanbod van die Weskus Nasionale Park (WKNP) was ‘n finale poging om die reservaat by die park ingelyf te kry om dit sodoende as bewaringsgebied te beskerm. Die reservaat huisves glo ‘n weelderige Safari Lodge, het ‘n ryk wildlewe, asook gesogte fossiel-neerslae van wêrelderfenis-belang.
Mynbaas Michael Nunn van KROPZ-fosfaatmyn gaan glo by die reservaat tuis wanneer hy die myn besoek.
Dempers, hoof-uitvoerende beampte van die Arcon Group, se reservaat is na bewering in Maart op ‘n veiling beskikbaar gestel. Die WKNP se bestuurder, Xola Mkefe, het die mislukte aanbod as ‘n groot terugslag beskryf, aangesien die parkbestuur reeds jare lank hul oog op die reservaat het en dit ‘n noodsaaklike deel van die biosfeer vorm.
“Dit is ‘n baie belangrike stukkie bewaringsgebied wat ons bitter graag met die WKNP wou konsolideer. Elandsfontein is soos ‘n eiland omring deur ons grond. Ons was desperaat om daardie stuk grond te bekom,” het Mfeke glo gesê.
Mkefe het glo erken dat hy voortydig opgewonde was nadat die aanbod twee weke gelede ingedien is, maar hy meen daar was ‘n mondelinge ooreenkoms tussen WKNP en Dempers wat Dempers nou verbreek het.
Volgens West Cape News het Dempers so ‘n ooreenkoms ontken en gesê die WKNP se aanbod is minder as 50% van die grondwaarde.
“Dit is private grond. Ek kan dit nie aanvaar nie,” het hy glo gesê. Hy het glo ook genoem dat hy al sedert Augustus verlede jaar ‘n stryd met die Parkeraad het.
Sonqua Manor on Elandsfontein Private Nature Reserve – Photos: Social Media
Dempers en die WKNP sit glo al geruime tyd vas oor sake soos die hervestiging van diere soos die swartwildebees op Elandsfontein en die bou van ‘n geplaveide parkeerterrein op die WKNP se grond ten koste van inheemse veld.
Mkefe was desondanks steeds hoopvol oor die grond.
“Ek hoop steeds dat ons dit eendag sal bekom,” het hy glo gesê.
Die hoof-uitvoerende beampte van die Weskus Biosfeer, Jeanette du Toit, was glo ewe verbaas dat Dempers die park se aanbod van die hand gewys het nadat sy die belangrike ooreenkoms tussen die twee partye gefasiliteer het.
Die voorsitter van Weskus Biosfeer Reservaat, Jimmy Walsh, is egter meer bekommerd dat kommersiële maatskappye die mynregte vir die fosfaatryke grond sal koop. Volgens hom was daar die afgelope 18 maande ‘n ongekende belangstelling in die grond deur groot maatskappye wat ook hul oog op die lonende fosfaatmynbedryf het. Die groeiende behoefte aan geneties-gemanipuleerde gewasse wat baie meer kunsmisstowwe benodig as gewone gewasse, het die fosfaatmynbedryf laat ontplof.
Walsh meen die probleem is onder die nuwe wetgewing is eienaarskap van grond apart van eienaarskap van die reg om dieselfde grond te myn. As Elandsfontein egter in besit van die WKNP was, sou dit teen mynbedrywighede beskerm wees danksy die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur.
“Dit is die grootste, enkele bedreiging vir die Weskus. Dit is een van die gevaarlikste dinge wat tans in die gebied gebeur. Niks is meer heilig nie,” het Walsh glo gesê.
- Dempers kon nie vandag telefonies op sy selfoon bereik word nie en het ook nog nie gereageer op ‘n skriftelike navraag om kommentaar te lewer nie.
Goed, noudat ons almal se aandag het – bogenoemde artikel (in Engels) is reeds in 2010 gepubliseer en alle voorspellings het toe WAAR geword. Mense se geheue is KORT en hulle neem ook LANK om OP te staan vir dit wat vir hulle belangrik is. Die Weskus is tans onder nóg groter druk en bedreiging van die nywerheidsontploffing op hande en die hofsaak teen die betrokke fosfaatmyn is STEEDS hangende.
- Die vertaling en her-publikasie van ‘n OU artikel wys net wat gebeur as mense nie “wakkerloop” en betyds saamstaan en optree nie. Die grond is toe destyds vir R35 M aan Elandsfontein Exploration and Mining (Pty) Ltd verkoop en die omstrede myn IS nou HIER, maar nou kom die vrae hoeveel ANDER myne gaan kom? Die mees ontstellende vraag is WAAR die “onwettige” Elandsfontein/KROPZ-myn sy water vandaan gaan kry in die lig van die ongekende, knellende droogte in die Wes-Kaap. Die myn het STEEDS nie ‘n watergebruik-lisensie nie. Tot dusver was niemand ook nog bereid om die volgende vrae te beantwoord nie: WAAR kry die myn die afgelope 18 maande sy water vandaan om die reuse-infrastruktuur te gebou het en hoeveel water is per dag gebruik? Is dit kosbare kraan/drinkwater? WAAR gaan die water in die eerste paar jaar vandaan kom AS die (tot nou toe) ontwykende watergebruik-lisensie wel toegestaan word en daar begin word om te myn?
Vroeëre foto’s van die omstrede Elandsfontein/KROPZ-myn
Sewe jaar later is DIT die prentjie by die myn . . . die huidige voorsitter van die Kaapse Weskus Biosfeer-reservaat Sharon February sing heeltemal ‘n ander deuntjie as haar voorganger(s) en dien nou op die direksie van ‘n stigting van dieselfde myn (nou KROPZ). Voorts is daar hardnekkige gerugte dat daar WEL begin is om te myn ondanks die feit dat hulle nog nie ‘n watergebruiklisensie het nie.
Hoe gebeur dit . . . en as DIT nie ‘n absolute botsing van belange is nie, wat IS?
http://www.netwerk24.com/ZA/Weslander/Nuus/hoe-van-reservaat-by-fosfaatmyn-betrokke-20170329-2
Hoewel die voorsitter van die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat (CWCBR) by ’n stigting van die mynmaatskappy Kropz aangestel is, het dit glo niks met haar werk by die reservaat uit te waai nie.
Martin Halvorsen, ondervoorsitter van die CWCBR, het bevestig dat Sharon February as ’n direksielid van die Greenheart Foundation aangestel is, maar het gesê “sy verteenwoordig nie die CWCBR” in die direksie nie.
Kropz bedryf die Elandsfontein-fosfaatmyn tussen Langebaan en Hopefield, wat naby ’n “kerngebied” van die biosfeerreservaat geleë is.
Dit grens ook aan die Weskus Nasionale Park en is naby ’n fossielryke gebied wat in 2015 tot provinsiale erfenisgebied verklaar is.
Halvorsen het Saterdag namens die CWCBR geantwoord op navrae oor February se aanstelling by die stigting en sê hy dink nie dit het “enigiets met die reservaat te doen nie”.
“Sy verteenwoordig nie die CWCBR in haar kapasiteit as ’n direkteur nie en dié saak is nooit deur die reservaat se raad bespreek nie.
“Persoonlik dink ek sy is ’n uitstekende keuse,” het hy gesê en bygevoeg dat February ook by die Weskus-landbouvereniging en Vinpro betrokke is.
“Met haar plaaslike kennis en bewese prestasie-geskiedenis as direkteur en voorsitter van die CWCBR sal ek Kropz en hul stigting aanprys vir die aanstelling van February.”
Die biosfeerreservaat is in 2000 verklaar oor ’n gebied van 387 000 hektaar, van Milnerton in Kaapstad tot die monding van die Bergrivier aan die Weskus.
Luidens sy webwerf is sy doelstellings om ekologies volhoubare ontwikkeling te koester, die landskap en biodiversiteit van die Weskus te bewaar, en ondersteuning te bied vir navorsing, monitering en opvoeding oor kwessies van bewaring en ontwikkeling.
Die Elandsfontein-myn wag tans op ’n geïntegreerde watergebruikslisensie van die departement van water en sanitasie voordat hy met die mynwerk kan begin.
February se aanstelling by die Greenheart Foundation is vroeër in ’n nuusbrief van Kropz bekend gemaak, hoewel dit nie genoem het dat sy die voorsitter van die reservaat is nie.
Die stigting is deur Kropz gestig en gefinansier as ’n organisasie sonder winsbejag om sy werk in die gemeenskap en volhoubaarheids-inisiatiewe te lei. Dit fokus op “maatskaplike, welsyns- en omgewings- inisiatiewe” in en rondom die gebiede waar die maatskappy belê, ontwikkel en werk.
“Die stigting is bevoorreg om Sharon as ’n direkteur te hê, sy is ’n welbekende lid van die gemeenskap in die Saldanhabaai-munisipaliteit,” lui die nuusbrief van Kropz.
Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplan-ning het ’n appèl teen die toestaan van omgewingsgoedkeuring aan die myn by die nasionale departement ingedien. Dit versoek dat die goedkeuring tersyde gestel moet word.
Kropz het gister gesê die stigting se direksie word nie vir hul dienste vergoed nie.
Omdat die reservaat nie statutêre magte het nie, kan dit ook “geen invloed of beheer” oor die myn uitoefen nie. – Die Burger
Hieronder is die webblad van Sonqua Manor op Elandsfontein Private Natuurreservaat – Foto’s: Internet
Lees ook ons vorige artikels oor die omstrede Elandsfontein/KROPZ-fosfaatmyn hieronder en elders op die webblad onder die hofie OMGEWINGSAKE.
Lees die volle berig hier:
http://westcapenews.com/?p=1526
TwitThis
Tags: elandsfontein, wcnp, west coast