Die uitgebreide en langdurige padwerke in Langebaan toets seker maar almal se geduld en uithouvermoë. Behalwe die onooglikheid van die projek met onbedekte sandmassas wat winkels se uitsig en ingange versper en die wêreld vol waai, word daar ook gereeld ‘n waterpyp of twee beskadig . . .
Gelukkig is daar darem die (nou al) bekende munisipale watertrok wat inwoners kom uithelp en soms tot humor tussen die frustrasie aanleiding gee – soos wanneer inwoners wil weet of hulle daarin kan bad/stort ook. Die vriendelike “waterman” het ook seker al ‘n skatkis stories om te vertel van “dorstige en bloeddorstige” mense se dinge en doene op sy roetes . . .
Dat besighede swaarkry weens dié padwerke is ‘n feit soos ‘n koei en ‘n mens kan dié frustrasie/moedeloosheid verstaan. ‘n Mens kan net hoop dat dit so vinnig en doeltreffend moontlik voltooi word dat die dorp weer kan spog en lag . . . tot dan is dit seker maar vasbyt, moed hou en bek hou? 🙂