Goeie nuus vir inwoners van Villa Diamanté in Langebaan is dat die vervalle bouval wat al maande lank hul lewe en omgewing versuur, uiteindelik in ‘n R4 miljoen-woonstelkompleks omskep word.
‘n Kaapse konsortium,Mandesign, het na bewering die gebou gekoop wat nou omskep word in ‘n weelderige woonsteleenheid bestaande uit elf eenslaapkamer-woonstelle en ‘n parkeerarea. Opknappingswerk het verlede week begin en behoort teen begin 2017 voltooi te wees.
Volgens mnre. Michael Davis en Sewes Bernadus, voormanne van die konstruksiemaatskappy Fernkloof Construction wat die projek hanteer, sal al die onooglike bosse en oopstaande mangate wat al maande lank ‘n veiligheids- en gesondheidsrisiko skep, binnekort iets van die verlede wees. Die omgewing in en rondom die gebou is geruime tyd al ‘n wegkruipplek vir misdadigers en ‘n beweerde dwelmnes.
‘n Sekuriteitsdiens patrolleer ook 24/7 die omgewing en inwoners wat ongerymdhede opmerk, kan Maxed Security kontak by 022-7720296.
Ongelukkig sluit dié welkome verbetering nie die ewe vervalle tolhuis ‘n entjie verder in nie. Dié historiese monument staan ook al maande lank leeg en is ewe vervalle en omring deur digte bosse. Boonop is die draadomheining ook beskadig en het rondlopers reeds hul intrek in die vuil gebou geneem.
Dit is na bewering nou die “nuwe” dwelmnes. Bespiegelinge dat BP die gebou gekoop het en dit in ‘n kafee langs ‘n beplande motorhawe wou omskep, kon nie bevestig word nie. Intussen is daar geen sekuriteit nie en is dit ‘n uiters afstootlike gesig by die dorpsingang.