Sommige ouer geslag joernaliste het geglo die waarheid oor omstrede kwessies kom altyd uit in kroegpraatjies. Derhawe was daar altyd ‘n paar ywerige manne wat maar te gretig was om dié noodsaaklike been van ondersoekende joernalistiek na-uurs te verrig . . . Hulle het gewoonlik met die sappigste stories vorendag gekom, maar dikwels ook met die ware feite van ‘n hoogs geheime bedrogspul of gekonkel wat selfs die Polisie nie kon “kraak”nie . . .
Daar is egter wel meer as ‘n skeutjie waarheid in dié praktyk. WeskusonTheline het ‘n paar maande gelede toevallig die eerste keer van die Elandsfontein-myn gehoor in ‘n gewilde kuierplek waar ‘n paar manne in ‘n redelik luidrugtige argument betrokke was. Die een (wat waarskynlik by die myn gewerk het) het genoem dat hulle aangesê is om “so vinnig as moontlik te werk om dinge in plek te kry sodat NIEMAND en geen hof die myn sal kan stop nie.”
Dit was eers later, nadat al die ongerymdhede en geheimhouding rondom dié omstrede fosfaatmyn al hoe meer aan die lig gekom het, dat dié woorde ‘n sinistêre betekenis kry. Die omstrede manier waarop die mynregte toegeken is, asook die systap van noodsaaklike omgewingsimpakstudies is onlangs opnuut deur Carte Blanche bevestig.
WeskusonTheline moes diep krap om uit te vind wie en wat die nuwe geheimsinnige maatskappy KROPZ is wat ‘n paar weke gelede uit die bloute as hoof-aandeelhouer en finansierder verskyn het en sommer dubbelblad-advertensies sonder enige kontakbesonderhede in koerante gepubliseer het. Die KROPZ-webblad het ook geen kontakbesonderhede gehad of melding gemaak wie die direkteure is nie. Hoekom die tanzaniet-mynkonings van Tanzanië se omstrede Tanzanite One-mynmaatskappy Mike Nunn en Mark Summers, wat blykbaar die meesterbreine en geld agter KROPZ is, steeds so geheimsinnig en op die agtergrond bly, is ewe vreemd en verdag. Ervaring van fosfaatmyn blyk ook nie op hul indrukwekkende CV’s te wees nie?
In KROPZ se dubbelblad-advertensies is pertinent genoem die fosfaatmyn langs die Weskus is “noodsaaklik vir Suid-Afrika se toekomstige voedselsekuriteit” omdat sowat 60% van sy kunsmisbehoeftes ingevoer word, wat “toegang tot fosfaat krities belangrik maak”. Nou word daar weer genoem dat die fosfaat vir die uitvoermark is . . . ? Gaan SA nou sy eie fosfaat/kunsmis weer ten duurste moet invoer . . . ?
Vandag pronk meer as R800 miljoen se indrukwekkende mynbou-infrastruktuur binne die buffersone van die Weskus Nasionale Park voordat die noodsaaklike watergebruik-lisensie nog toegestaan is en daar geen bewyse is dat dit wél toegestaan gaan word nie. Môre word ‘n praatjie reeds gegee oor hoe KROPZ se model lyk om grondwater te dreineer en te herlei. Dit is deel van die verrigtinge by die Opedag van die Saldanhabaai Watergehalte-forum wat van 09h00 by die Langebaan Country Estate gehou word.
Was die kroegpraatjies dié keer ook waar? Dat iemand iewers juis daarop gereken het en die groen lig gekry het omdat dit moeilik sal wees om ‘n mynkompleks te stop as soveel infrastruktuur reeds in plek is – al is baie van die omgewingsimpakstudies nog nie gedoen nie en ‘n waterlisensie nog nie eens toegestaan nie?
Gaan die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur sommer goedsmoeds nek-omgedraai word al bepaal dit uitdruklik dat geen van die huidige mynbedrywighede tot dusver MAG plaasgevind het sonder omgewingsmagtiging nie?
Die Weskus-Omgewingsbewaringsassossiasie (WOBA) byt steeds soos ‘n boelterriër aan die myn se hakke om te keer dat so ‘n omstrede projek met soveel ongerymdhede die Weskus se unieke ekologie en waterbronne vernietig. WOBA se geldinsamelingsprojek gaan onverpoosd voort terwyl ‘n datum steeds nie bepaal is vir die Hooggeregshofsaak wat uiteindelik die mag van Suid-Afrika se Grondwet sal toets nie.
Intussen word daar al hoe meer op sosiale netwerke gekla dat bitter min mense van Hopefield by die myn werk kry en dat verreweg die meeste van elders in die land kom. Hoeveel hoopvolle werksoekers uiteindelik op Hopefield gaan toesak en waar hulle blyplek en kos gaan kry as hulle nie ander werk kry nie, bly ‘n ope vraag . . .
Môre is dalk ‘n goeie tyd om dié vrae te vra by die Opedag? Lees meer oor die myn op ons nuusblad en ook: