Daniëlle Pascal loer goedkeurend van haar losie teen die muur af of die wit tafeldoeke op die tafels presies reg lê. ‘n Antieke teepot staan hand in die sy hier voor my en kyk parmantig teen sy snoet af na die verrigtinge om hom, terwyl die outydse praal van ‘n kristal-kandelaar wat soos ‘n blink waterval vasgevang in tyd, die prentjie van styl en ‘n oog vir detail weerspieël.
Ons is bymekaargetrek by Unique, ‘n unieke konsep wat vervloë dae se leefwyse met Franse styl kombineer om ‘n onmiddellike gevoel van ou swart en wit rolprente op te tower, waar silwer eetgerei, kristalglase en fyn porselein die daaglikse gebruiksartikels was. Die spasie verleen hom daaraan om die knusheid van ‘n Franse straatkafee met die dekadensie van ‘n snoesige teater te kombineer wat dames dadelik na mooi aantrek en swierige hoede laat hunker.
Die rede vir die bymekaarkom is om, in skrille kontras met ons omgewing, hulde te bring aan die Broers Gibb, beter bekend as die Bee Gees, se ouer, meesleurende melodieë en die 70-gerjare se disco-era klanke. Die kunstenaar, Vernon Barnard, na ‘n aanvanklike deurmekaar van misverstaande identiteit, lei ons soomloos deur die klanke van treffers soos 1st of May en Stayin’g Alive wat die voete laat jeuk om die dansbaan aan te durf.
En dis presies wat die aand opgetower het . . . goeie wyn, ‘n koel en lawende Weskusluggie, vrolike samesyn van ou en nuwe vriende en dans dat die riete roer.
Unique het sy naam gestand gedoen deur topklas vermaak te kombineer met outydse styl wat soos ‘n vars bries deur Langebaan waai. Ek gaan vir seker weer die plek se uniekheid en aanslag indrink en wag gretig vir die volgende funksie wat Franse flair en Boere-sjiek so gemaklik kan kombineer . . .want lekker bly lekker in enige taal!