SJOE – ons het julle gesê die Weskus is ‘n wilde, wonderlike plek – WOES mooi, WOES lekker en WOES woes. Te midde van die vrolike vakansiegees langs die spierwit Weskus-strande, het ‘n reuse-tsoenami oornag oor die kop van Saldanhabaai burgemeester Marius Koen gebars. Langs die Weskus het die woord taxi blykbaar ‘n uiters plofbare betekenis.
Koen het vandag opslae in verskeie koerante en radiostasies gemaak en ‘n woeste gegons op sosiale media veroorsaak – alles blykbaar omdat hy presies dieselfde parkeermaatreëls by Saldanhabaai se hoofstrand toegepas het as wat sy voorganger, Francois Schippers, verlede jaar in die feestyd gedoen het om drankmisbruik en bandeloosheid op die strand en in Kusweg te probeer bekamp.
Slegs wettige huiseienaars in Kusweg in Saldanhabaai het dié feestyd permit-toegang tot dié straat, terwyl alle ander voertuie – insluitende busse en taxi’s – op enige van die ander parkeerareas binne loopafstand van die hoofstrand kan parkeer.
Dié maatreël is glo al verlede jaar toegepas om regmatige huiseienaars in Kusweg se regte te beskerm ten opsigte van rumoerige en oproerige gedrag en wanorde deur dronk feesgangers wat tot in die vroeë oggendure raas en amok maak as hulle na en van die strand beweeg.
Die herrie volg blykbaar omdat Koen verwys het na “taxi-vragte vol feesgangers” wat soms daar aankom en aanleiding gee tot geraas, vandalisme en dronkenskap.
Dié verwysing na die gewraakte woord taxi’s het glo die ANC se Weskus-streekswoordvoerder Sammy Claassen rooi rassisme laat sien en nou eis hy sommer Koen se kop as SBM burgemeester.
Volgens ‘n berig in Times LIVE het Claassen gesê die ANC is van voorneme om Koen by die Menseregtekommissie aan te kla oor sy “uitlatings teen die mense van Saldanhabaai”. “Ons sal geen steen onaangeroer laat om hom tot verantwoording te roep en om verskoning te vra vir sy uitlatings nie,” het Claasen glo gesê.
Totaal onthuts en onverhoeds betrap deur dié media-herrie en stortvloed beskuldigings van rassisme, het Koen aan Weskusontheline gesê: “Ek weet nie waar ras nou eintlik in die prentjie kom nie. Dit gaan uitsluitlik oor die toepassing van wet en orde en dieselfde maatreëls is verlede jaar toegepas sonder dat ‘n haan daarna gekraai het.
“Niemand is toegang tot die strand geweier nie en ALLE voertuie is verbied om in Kusweg te ry of te parkeer – behalwe dié van die huiseienaars wat daar woon. Dit is dus nie net busse en taxi’s wat toegang geweier is nie. Ek verstaan ook nie die rassisme nie, want mense van alle bevolkingsgroepe gebruik taxi’s. Boonop is daar oorgenoeg parkeergeriewe elders binne loopafstand van die strand.”
Volgens Koen volg die permitstelsel in Kusweg ná vele klagtes deur die jare van huiseienaars en die Gemeenskapspolisieëringsforum (GPF) dat die SBM niks doen om inwoners se regte te beskerm teen feesgangers wat elke jaar die rus en vrede versteur met bandeloosheid, drankmisbruik en wanordelike gedrag nie.
Saldanhabaai se hoofstrand. DIGITAL CAMERA/Foto: Internet
“Die feesgangers raas en rumoer deurnag in die straat tussen die huise – wie wil tot 4 vm. wakker gehou word deur skreeuende bande en lawaaierige, dronk mense wat dikwels ook skade aanrig en vandalisme pleeg? Alkoholgebruik word streng verbied op alle strande landwyd en dié parkeermaatreëls in ‘n residensiële straat word oral by kusdorpe toegepas – ook in Kaapstad en Hermanus,” het hy gesê.
Koen is van vanoggend af in die spervuur met joernaliste van koerante, sosiale medianetwerke en radiostasies wat sy kommentaar op Claassen se aanval soek.
“Persoonlik dink ek dit is niks anders as goedkoop politieke sensasie van die ANC nie. Hoekom is niks verlede jaar gesê nie? Is dit miskien omdat die vorige burgemeester bruin was en ek is wit?”
* Tipies Weskus, herinner dié bohaai nogal aan die astronomiese opslae wat die Weskus-pofaddertjie op die strand by Shark Bay verlede naweek in die pers en op sosiale media gemaak het. Kate King van Pretoria het ‘n foto van die pofadder op ‘n webblad oor slange gepubliseer. Weskusontheline het haar gekontak en die storie gepubliseer en teen die aand was dit op radiostasies, Huisgenoot se FB-blad en die volgende dag se voorblad van BEELD! Soos gesê, aan die Weskus is niks gewoon nie – alles is WOES mooi of WOES lekker of WOES erg! 😉
http://www.weskusontheline.co.za/2016/12/14/1891/
Lees die volledige berigte hier:
http://www.timeslive.co.za/…/Saldanha-Bay-beach-bunfight-ab…