OM VELDDRIF TE VERF

 

velddrif

Andries Bezuidenhout. Om Velddrif te verf

Wednesday, March 30th, 2016

http://versindaba.co.za/tag/laaiplek/

Velddrif sit by die mond van die Bergrivier. ʼn Plaaslike boer, ene Theunis Smit, het sy vee hier deur die rivier gejaag om aan die oorkant te gaan wei, vandaar die naam Velddrif. Later was daar ʼn pont om die rivier oor te steek. Deesdae ry jy oor ʼn brug as jy van die Kaap se kant af kom, ʼn soutmyn op links wat Walvisbaai se flaminke oproep, ʼn hotel met ʼn stoep wat op die rivier uitkyk op regs as jy by die dorp aankom.

Volgens Wikipedia is hier plante soos Euclea racemosa (Kersbos), Babiana ringens (Rotstert), Willdenowia incurvata (Sonkwas Riet), Limonium (Strandroos) en Leucospermum rodolentum (Sandveld Luisebos). Dis die tipe name wat Johann Lodewyk Marais met groot vrug in gedigte sou kon gebruik, maar ek is seker hy sou eers die inligting en spelling kontroleer – dis immers Wikipedia.

Verder met die pad aan is Dwarskersbos. Dit was nog altyd een van my drome om ʼn plek met so ʼn mooi naam te kan sien, maar helaas, dit moes eerder Klinkersteenbos gewees het. As sekere voorstede van Sasolburg by die see was, sou dit dalk só gelyk het. Aan die ander kant, daar is iets bekoorliks aan die omgewing se dienlike estetika. Dis soos die ying-yang kombinasie van Swakopmund en Walvisbaai. Swakopmund met Duitse koffiewinkels en koloniale Jungendstil geboue en Walvisbaai met hawehyskrane en visfabrieke. Hier is dit Saldanha se staalfabrieke wat die pretensie van ʼn plek soos Paternoster uitbalanseer.

Die mooiste deel van Velddrif is tegnies nie in Velddrif self nie, maar ʼn plek met die pad af genaamd Laaiplek. Ek vind dit ʼn toepaslike naam vir ʼn hawe. Dit sê net wat dit is. Laaiplek is op die punt van ʼn natuurlike skiereiland. Aan die een kant van die hawenedersetting, in die riviermond, is vasmeerplek vir skepe en aan die ander kant is die see. In die nywerheidsgeboue rondom die hawe is visfabrieke, ʼn paar onaanstellerige eetplekke, ʼn motorwerktuigkundige en ʼn hotel.

By die parkeerterrein langs die see is twee geroeste karre geparkeer. In die een kar is ʼn bejaarde man en vrou. In die bakkie langsaan sit ʼn man met ʼn mus. Hulle kuier met die venster oop. Hulle steek nie hulle lag weg as hulle kyk hoe ek foto’s van die asblikke en doringdraad neem nie.

velddrif1

 

 

 

 

 

 


OM VELDDRIF TE SKILDER

Laai kattebak met gespande doek,
esel, kwasse, buisies, terpentyn.
Rasper die pleknaam korrek uit.
Vjelledgif. Pak uit, verken
per motor, te voet.
Teerpad, grondpad, dorpstraat.
Soek jou landskaptoneel.
Soutpan met vulstasie en flamink.
Marina met palmboom en seiljag.
Hotelstoep met brug en rivierloop.
Bolangs kuif miswolke landwaarts
en plek-plek soekligson.
Kies perspektief.
Voorgrond, aartappelland.
Middelgrond, bloekoms, koringstoppels.
Horison, steeds bloekoms.
Kleur.
Liggrou, donkergrou, geelgrys, blougrys.
Binne toevalsmeetsnoere is opsies beperk:
Skakerings grys, lewenslank vas
soos ʼn tyddeelkontrak
en die keuse van ʼn oord
binne Paasnaweek trefafstand
êrens, op ʼn plek soos dié
en eintlik die enigste rede
hoekom mens Velddrif sal skilder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *