Weskus-waterkrisis: Reën en water van Bergrivierdam bring uitkoms

Goeie nuus vir Weskussers wat al moedeloos is met die voortslepende droogte en waterkrisis, is dat ‘n dik stroom water vir basiese menslike gebruik uit die Bergrivierdam stadig maar seker op pad is na hulle om die ergste byt uit die droogte te haal.

Sowat 5 miljoen kubieke meter water is op pad na die Weskus munisipale distrik nadat die departement van water en sanitasie besluit het om water van die Bergrivierdam oor te plaas na die Misverstanddam. Dié water het die Bergrivierdam Woensdag verlaat en sal sowat 138 km ver vloei voordat dit die Misverstanddam oor sowat sewe dae bereik.

Foto: Die Bergrivierdam se sluise is Woensdag oopgemaak sodat water daarvandaan na die Misverstanddam kan begin vloei om die waternood aan die Weskus te verlig.

Volgens ’n verklaring van die departement is die Voëlvleidam (13,75%) en die Misverstanddam (13,26%) die leegste van alle damme in die Wes-Kaapse waterstelsel. Dié damme verskaf water aan die Weskus munisipale distrik.
Voorheen is geskat dat die Misverstanddam teen 24 April 2018 heeltemal kan leegloop.

“Terwyl heelwat aandag gegee word aan die impak van die droogte op Kaapstad, het dit ’n impak reg oor die provinsie en ’n droewe situasie ontwikkel aan die Weskus,” lui die departement se verklaring.

Die Weskus- munisipale gebied sluit die munisipaliteite van Bergrivier, Saldanhabaai en die Swartland in.
’n Noodpompskema sal ook water van die Theewaterskloofdam na die Bergrivierdam oorplaas.
Die huidige voorspelling is dat daar minder water vir huishoudelike en landbougebruik sal wees as die reënval van 2018 se winterseisoen ondergemiddeld is.

Die invloei van water na die Misverstanddam is vir basiese menslike gebruik. Die departement het gebruikers versoek om nie water uit te pomp terwyl water uit die Bergrivierdam na die Misverstanddam vloei nie.
Dit het Woensdagmiddag oor groot dele van die Wes-Kaap gereën: Van St. Helenabaai tot Wellington tot op Kleinmond.
Volgens lede van die Facebook-groep Reënval in SA het Stellenbosch sowat 16 mm reën ontvang terwyl die Strand 6 mm ontvang het. Op St. Helenabaai is 4,8 mm gemeet terwyl inwoners van Plattekloof naby Kaapstad 9 mm gemeet het.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel geen reen vir vandag in die Wes-Kaap nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *