Twee Weskussers in hof oor gru-video van robwelpie-marteling : Saak uitgestel tot 15 Oktober

Die twee beskuldigdes in die opspraakwekkende robwelpie-videosaak waaroor Weskusontheline breedvoerig berig het, het Maandag vlugtig in die landdroshof op Laaiplek in Velddrif verskyn op verskeie klagte wat verband hou met dieremishandeling en wreedheid teenoor diere.

Marius Tredoux (19) en Rynhard van den Heever (22) is nie gevra om te pleit nie. Volgens Jameson October, inspekteur van die DBV-tak op Vredenburg, is die saak tot 15 Oktober uitgestel sodat hulle met hul regsverteenwoordiger kan konsulteer en hy afskrifte van die saakdossier kan bekom.

Die twee gebore Weskussers word ook aangekla ingevolge die Wet op Omgewingsbestuur, wat ‘n maksimum vonnis van vyf jaar tronkstraf of ’n maksimum boete van R5 miljoen, of albei, tot gevolg kan hê.

Die saak spruit uit ‘n gru-video wat in Junie vanjaar op sosialemedianetwerke versprei is en landwyd opslae gemaak het weens die wreedheid en sadistiese optrede van die beskuldigdes.

Die beeldmateriaal wys duidelik hoe twee jong mans op ‘n boot ‘n robwelpie genadeloos martel deur hom herhaaldelik met ‘n mes op die snoet te kap en steek, teen die boot slinger en gooi en mekaar in kru taal aanmoedig.

In een stadium word suggestiese bewegings ook gemaak en gelag terwyl die welpie bier gevoer word. Die video het mense landwyd geskok en die vraag opnuut laat ontstaan oor wát mense – en ook jongmense – vandag so wreed en moorddadig maak dat Suid-Afrika van die hoogste moord- en geweldsmisdaadsyfers ter wêreld het.

Danksy sosiale media is die beskuldigdes destyds binne ‘n halfuur geïdentifiseer en is klagtes by die SAPD en DBV aanhangig gemaak.

In die tyd wat die saak gesloer het omdat soveel departemente betrokke is en die outentiteit van die video bo alle twyfel bevestig moes word, is vier honde van die fluitjieblaser wat die video oorspronklik geplaas het, in afsonderlike voorvalle doodgemaak.

Drie van Abri Bester se honde is een ná die ander vergiftig en die vierde een, Wollie, ‘n skaaphond-kruising, is voorverlede week dood langs die pad aangetref met haar uitgesnyde hart ‘n entjie daarvandaan. Sy is vermoedelik ook agter ‘n voertuig gesleep.

Die  Swartland/Weskus-DBV het ‘n beloning van R8 000 uitgeloof vir enigeen met inligting wat tot die opsporing van die skuldiges lei.

Só het die Swartland & Weskus DBV ná die beskuldigdes se eerste hofverskyning op sy FB-blad berig:

Swartland & West Coast SPCA

SEAL BEATING CASE in Laaiplek. The accused have appeared in court. The case has been postponed to 15 October.
Thank you once again to Langebaan Animal Care for showing support for the poor animal that suffered. Thank also to lawyer George Engelbrecht (far right) for supporting us in this case.

Boonop is daar verlede week helder oordag by Abrie se huis op Velddrif ingebreek en sy vrou en die meisie van sy grootmaakseun is gedreig terwyl etlike artikels ook uit die huis gesteel is.

Die vermoede dat dié sake verband hou met die robwelpie-saak, is nie amptelik bevestig nie en hoewel twee van die inbrekers danksy polisiesiefoto’s positief geïdentifiseer is, is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Abrie vermoed hy word geteiken en geïntimideer deur mense wat simpatie met die beskuldigdes het en hom só probeer afskrik, hoewel die saak nou heeltemal buite sy beheer en in die staat se hande is.

Die video is tydens die polisie-ondersoek van die internet verwyder en kykers word gewaarsku dat dit ontstellende beeldmateriaal bevat – veral vir kinders.

https://www.youtube.com/watch…

Lees ook ons vorige berigte hieroor:

http://www.weskusontheline.co.za/2018/09/09/3588/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *