Meimaand, die eerste maand op die kalender sonder ‘n “r”, lui tradisioneel die snoekseisoen langs die Weskus in en dié Meimaand het nie teleurgestel nie.

Die snoek lóóp en tot 50 volgelaaide bote kom meer daagliks met hul smaaklike vars vrag snoek in die St Helenabaai-hawe vas waar die vlek- en smousproses dan in alle erns begin.
Die eerste bote op die kaai se pryse begin gewoonlik by R200 per groot, vet snoek en namate die ander 50 bote stelselmatig inkom, daal die prys geleidelik tot so R80 per snoek – steeds nie ‘n slegte sommetjie nie as in ag geneem word dat elkeen van die sowat 50 bote gemiddeld ses bemanningslede aan boord het en elkeen poog om minstens 100 snoek elk te vang . . .
Enige buitestaander wat die geoliede visvlek- en smousproses tussen Mei en Augustus (al die maande sonder ‘n “r”) op die hawe dophou, dink miskien dis ‘n vinnige en maklike manier om geld te verdien, maar ‘n gesoute snoekhengelaar sal jou vinnig ‘n ander storie vertel: Dit kos jare se oefening en ervaring om daardie veglustige roofvis wat tot 35kg kan weeg met ‘n landlyn uit die water te spook, hom vinnig onderstebo onder die arm vas te knyp en sy kop agteroor te knak voordat hy jou met daardie vlymskerp tande kan bykom . . . Knyp jy hom verkeerd onder jou arm vas voor jy sy kop kan knak, loop jy die gevaar dat sy vlymskerp boonste penvinne jou flenters steek. ‘n Visstok is glo te stadig vir dié gesoute manne se wentegniek.
Volgens ‘n plaaslike visserman vertrek die bote in die snoekseisoen soggens douvoordag uit die hawe om te gaan soek waar die groot skole skuil – gewoonlik by die Vyfmyl-bank (Noordbinder).
‘n “Dolos” – bestaande uit ‘n lyn met ‘n stuk silwer lood aan die punt – word gewoonlik op ‘n belowende plek in die water gegooi en as ‘n snoek daarteen stamp (om ondersoek in te stel) weet die manne hulle het die spreekwoordelike goudmyn in die see gekry.
Tradisioneel word snoek met dik, sterk handlyne wat nie die vingers so maklik sny nie, gevang met sardyn as aas. Die snoek word blitsvinnig met die hand ingetrek, onder die blad vasgeknyp en die kop agtertoe geknak om die nek te breek om so vinnig moontlik weer die hoek in die water te kry vir die volgende vangs. Hoe gouer ‘n snoek doodgemaak word, hoe minder adrenalien word afgeskei en hoe smaakliker is hy. Dit voorkom ook dat ‘n spartelende snoek al die lyne op die boot in ‘n kraaines omskep.
In sommige gevalle word ‘n snoek ook sommer met ‘n “polisieman” oor die kop geklits om hom vinnig dood te kry – ‘n stukkie hout met ‘n harde loodpunt aan die voorkant.
Die vaartbelynde proses vandat die bote inkom, die vis gevlek en reg is vir verkope, getuig van dekades se ervaring in die Weskus se ryk viswaters. Hoe vinniger die proses, hoe varser die snoek.
Hoe weet jy of jy ‘n vars, stewige of pap snoek gekoop het?
Die snoek se kieue moet nog bloedrooi wees en die oë moet blinkhelder en nie dof wees nie, sê die kenners.
Ervare snoekkopers vra altyd die bemanningslede se “favourites” wat bo-op hul eie persoonlike kwota gebêre word en nie die eerste vangste wat onder in die vrag lê en papgedruk word nie.
Te oordeel na die milde vangste wat Meimaand opgelewer het, lyk dit of daar ‘n GOEIE snoekseisoen vir die Weskus voorlê . . .


