Goeie nuus vir moedelose en gefrustreerde inwoners en besoekers wat die afgelope paar maande toegang tot die Vredenburg Provinsiale Hospitaal geweier is tydens besoekure, is dat besoektye vandag weer amptelik in werking gestel is.
Die amptelike besoekure wat vanaf vandag (17 Augustus 2022) van Maandag tot Sondag weer geld, is: 15:00 tot 16:00 en 19:15 tot 20:00. (Kyk hier vir meer besonderhede).

Dit het Weskusontheline Dinsdag presies drie oproepe en ‘n besoek aan die superintendent – deesdae genoem die mediese bestuurder – Dr Sylvio Morales-Perez geneem om vas te stel hoekom besoekure by dié gewilde hospitaal nooit weer ná die Covid-inperkings heringestel is nie. Burokratiese rompslomp, swak interne kommunikasie en blote ongeërgdheid en versuim om aandag te gee aan die woede en frustrasie van besoekers, blyk die hoofredes te wees, aangesien Covid-gevalle al maande lank nie ‘n bedreiging by dié hospitaal was nie.
Dit kom ná ‘n stortvloed van klagtes nadat besorgde familielede en vriende van pasiënte blykbaar die afgelope paar maande onseremonieel deur sekuriteitspersoneel by die hekke weggewys is en verbied is om hul geliefdes tydens besoekure te besoek . . .
Van die ontstelde besoekers het so ver as Kaapstad gereis om ‘n siek geliefde te besoek of om noodsaaklikhede soos nagklere en toiletgeriewe vir hulle te bring. Benodigdhede soos onderklere en slaapklere wat as enigste uitweg by Ontvangs of die sekuriteitspersoneel gelaat is om aan die pasiënt te besorg, is in sommige gevalle ook nie eens vir die verswakte pasiënt aangetrek nie.
Toe Weskusontheline Dinsdag as voornemende besoeker navraag doen oor besoekure, is ons ook meegedeel dat daar STEEDS geen besoektye is nie weens die Covid-regulasies. Toe ons noem dat besoektye al maande gelede by ander hospitale heringestel is en dat daar volgens ingeligte bronne lankal GEEN Covid-gevalle by dié hospitaal is nie, is ons van bakboord tot stuurboord gestuur. Die matrone was glo in opleiding en die mediese bestuurder, Morales-Perez, was glo heeldag uit op kliniekbesoeke . . .
‘n Saalsuster het by navraag gemeld dat sy net so bekommerd is daaroor dat siek en bejaarde pasiënte steeds nie besoek van hul geliefdes mag ontvang nie, wat juis so belangrik is vir hul emosionele welsyn in die herstelproses.
Kort daarna het Morales-Perez teruggebel – daar was glo ‘n interne kommunikasieprobleem en hy was heeltyd daar en nie soos beplan op kliniekbesoeke nie. Hy was glo ook onbewus van die talle klagtes en voornemende besoekers se frustrasie en vergeefse pogings om hul siek geliefdes te besoek.
Tydens ‘n persoonlike besoek en ontmoeting met Morales-Perez Dinsdagmiddag was daar steeds ‘n klomp gefrustreerde besoekers buite wat ferm deur sekuriteitspersoneel weggewys is weens die “Geen besoektye”-beleid onder die vaandel van die uitgediende Covid-gevaar. Besoekers het luidkeels die sekuriteitspersoneel toegesnou dat hulle soos die Mafia optree en dink hulle besit/bestuur die hospitaal en dat hulle geliefdes alleen en siek binne lê terwyl hulle ‘n hanetree van hulle af is en toegang geweier word.

Ondanks ons afspraak met Morales-Perez is ons by Ontvangs wéér meegedeel dat Dr. Morales-Perez NIE daar is nie en eers Woensdag weer beskikbaar sal wees . . . Die interne misverstand is gelukkig vinnig uitgeklaar en ‘n vriendelike personeellid, gewapen met ‘n slaanstok aan haar gordel, het ons deur die lang, maar silwerskoon gange vergesel na Morales-Perez se kantoor in die administratiewe afdeling.
Dié joviale Kubaans-gebore algemene praktisyn wat al 25 jaar in SA woon en werk en saam met sy SA doktersvrou die Vredenburg Provinsiale Hospitaal se pasiënte met ‘n passie dien, was duidelik NIE behoorlik ingelig oor besoekers se maandelange woede en frustrasie oor die volgehoue en onregverdigbare Geen Besoektye-beleid en die Gestapo-styl waarmee gekontrakteerde sekuriteitspersoneel dit toepas nie . . .

By ons ontmoeting het Morales-Perez ons dadelik meegedeel dat reëlings inderhaas getref is en dat Besoekure weer op Woensdag (vandag) ingestel word . . . ‘n Epos met die spesifikasies van die besoektye sou dadelik na die munisipaliteit en media gestuur word om die publiek in te lig.
Volgens Morales-Perez was hy onbewus van die publiek se klagtes en frustrasies en kan hy nie daarop reageer as klaers nie die identiteit van die betrokke individu(e) bekend maak nie. Volgens hom kon enige besoeker spesiale reëlings tref om wel ‘n pasiënt te besoek en as die versoek redelik was en nie die pasiënt se gesondheid in gevaar sou stel nie, sou dit toegestaan word.
Net jammer die publiek en sekuriteitspersoneel het dit blykbaar NIE geweet nie . . . ? Of nie geweet by WIE om spesiale toestemming te kry nie?
Die goeie nuus is dat Vredenburg Provinsiale Hospitaal steeds goed bestuur word en 90% van die personeel uitstekende diens lewer. Die hospitaal is skoon, die kos is volgens hospitaalstandaarde steeds goed en verreweg die meeste personeellede is goed opgelei en lewer uitstekende diens.
Die publiek het ‘n groot verantwoordelikheid om dit so te hou deur die handjievol lui, luidrugtige personeellede wat NIE hul kant bring nie of swak diens lewer, te identifiseer en aan te meld by die bestuur.
Dis ‘n GROOT hospitaal met baie afdelings en die interne kommunikasielyne kan soms maklik kruis, maar as probleme op die regte manier en deur die regte kanale aangemeld word, kan dit vinnig opgelos word . . . soos ons gister ervaar het.
Met sy sterk Kubaanse aksent en energieke houding vertel Morales-Perez dat hy al 33 jaar ‘n algemene praktisyn is wat léwe vir die welstand van pasiënte – ook dié in die Vredenburg-hospitaal met sy 112 beddens en agt klinieke.
Sy oor is oop om te luister en probleme op te los . . . AS die publiek net deur die muur van burokratiese rompslomp en interne kommunikasieprobleme in dié groot gebou kan dring?