Namibiese boere moet met nuwe oë na termiete begin kyk

Rekord-seisoen vir omajowas

“As boere besef watter noodsaaklike en unieke rol termiete in die ekologiese ketting van die natuur speel, sal hulle met nuwe oë na hulle kyk en hulle beter beskerm. Hulle is eintlik heilige spesies!”

Dié passievolle uitlating kom in alle erns van Namibië se eie bekroonde landboulegende en Boesman-kenner Reinhard Friederich. Nes sy indiepte-kennis van die Hai//om Boesmans van Etosha in ‘n internasionaal-erkende baanbrekersboek verewig is, is Reinhard op 82 waarskynlik ook Namibië se oudste en grootste termiet-bewonderaar en kenner. Hy hou die wel en weë van dié merkwaardige insekkie immers al van 7-jarige ouderdom met kinderlike verstomming dop, het hulle al saam met die Boesmans gevang, in die son gedroog en geëet en weet presies waar en wanneer Namibiërs weer ‘n ryk of klein oes aan omajowas kan verwag.

Reinhard is nie die enigste mens wat liries raak oor dié klein insekkies van sowat 2 cm wat baie onkundige mense net as ‘n pes beskou nie.

Die wyse Salomo het oor hulle geskryf: “Gaan na die mier, luiaard, en word wys.” Die Afrikaanse digter, skrywer, regsgeleerde en waarnemer van dieregedrag (etologie) Eugene Marais het al in 1925 die lof van termiete besing in “Die siel van ‘n Mier”. Selfs in Charles Darwin se skrywes oor ewolusieleer word verwys na die verstommende “ingebore intellek” van termiete om intuïtief hoogs ingewikkelde strukture in simbiose met die natuur te bou wat geen mens met gevorderde tegnologie hulle selfs vandag sal kan nadoen nie.

Namibiërs geniet die afgelope maand of twee weer een van die seldsame “byprodukte” van ‘n baie spesifieke termietspesie se slim en harde werk. Goeie reëns en ideale weerstoestande betreffende wind, voggehalte en temperatuur het in Februarie ‘n rekord-oes aan skottel-grootte en sappige omajowas in veral die sentrale dele van die land opgelewer. Op die plaas Ombona van Peter en Ortrud Schonecke naby Kalkfeld is sedert Januarie reeds 674 Omajowas geoes –  benewens dié wat werkers self in die veld gepluk het.

‘n Video wat Trudi Simone (onder) op sosiale media gedeel het wat die pragtige gesig uitbeeld van 105 Omajowas wat op die voet van ‘n enkele termiet-hoop op hul plaas Eckenberg noordoos van Okahandja groei, het landwyd die ronde gedoen. Dit is die meeste omajowas wat Trudi (66) en Marco (71) nóg om een termiettoring op hul plaas gekry het.

Só ook dié foto’s van reusagtige omajowas wat meer na blomme as sampioene of swamme lyk wat Peter en Ortrud Schonecke en hul kleindogter, Mila, hier vashou. Die foto is op die buurplaas Elshorst van Gero en Sabine Schonecke geneem.

Selfs niksvermoedende besoekers kon nie die talle informele handelaars langs die pad vanaf Outjo, Otjiwarango, Okahandja tot in Windhoek miskyk wat dié unieke lekkerny smous teen sowat 30-40 Namibiese dollars elk nie.

Wie moet ons bedank? 

Net EEN termiet-spesie eie aan dié geweste wat een keer ‘n jaar (afhangende van ideale weerstoestande) uit hul indrukwekkende “gebou” swerm en genoeg kos agterlaat dat mens, dier en voël ook kan deel in hul kosbare ondergrondse kostuine se oorvloed wat hulle met soveel nougesette ywer, kundigheid en presiesheid verbou en versorg. Die Macrotermes michaelseni termietspesie. Aldus Reinhard, wie se omvattende boek oor dié spesifieke termietspesie tans in ‘n proses van verwerking is om gepubliseer te word.    

Reinhard het hom al van kleinsaf verwonder aan die reuse-miershope en die bedrywighede van ‘n spesifieke soort termiet op hul derde-geslag familieplaas Choantsas sowat 84 km noordoos van Tsumeb. Die naam Choantsas (uitgespreek Quansas) is die Boesmanwoord vir olifante se bad- of swemplek. Dié reuse-miershope kan ‘n voetstukbasis van tot 40 meter in deursnee en 1,4 m hoog hê, sodat dit saam met die 1,8 meter toring tot 3,2 m die lug in kan troon. Ná ‘n goeie reënseisoen is dit ook die habitat van die gesogte, eetbare reuse-sampioenspesie omajowas – wat ook ‘n voedsame lekkerny vir Boesmans en ander inheemse bevolkings is.

Herero-woord vir domkop

Die naam omajowa kom van die Herero-stam en beteken letterlik dom of domkop – waarskynlik vanweë die reuse-kop van die sampioen wat aan ‘n waterkop-baba herinner.

Reinhard skryf: “As ‘n gebore natuurliefhebber, het ek al op ‘n jong ouderdom ‘n besondere belangstelling in die termiet Macrotermes michaelseni ontwikkel. Dit het gelei tot jarelange navorsing oor die leefwyse van dié besondere insek waarvoor ek tot vandag toe nog nie al die antwoorde gekry het nie. Op my ouderdom is ek nou oortuig dat net die Skepper my dié antwoorde sal kan gee.”

Só lyk dit 10 maande van die jaar binne-in ‘n termietkolonie se “kostuin” waar die spesifieke sampioenspesie omajowas groei en die standhoudende en voedsame voedingsbron vir die kolonie is. Wanneer die balans versteur word ná ‘n groot uitswerming, bly te min termiete oor om al die kos te eet en groei die omajowas deur die toringvoet na die oppervlak sodat mens, dier en voëls ook van die lekkerny kan eet.

“Dit was veral die termiete se ‘uitswerming’ wat ek as kind saam met my pa beleef het, wat die sneller vir my buitengewone belangstelling in die leefwyse van dié termiet was. Ons het die vlieënde termiete op Hai//om-manier met ‘n fakkel gevang, gedroog en saam met ‘n bietjie sout geëet. Die tyd, sowel as die hoeveelheid reën, bepaal  gewoonlik hoeveel termiete uitswerm en dus ook hoeveel omajowas sowat ‘n maand later op die oppervlak verskyn.”

Sy navorsing het hom ook geleer dat ‘n termiettoring wat feitlik geen basis (voet) het nie, nog baie jonk is vergeleke met torings wat ‘n voetstuk van ‘n meter hoog of meer het.

“Die voet word nie deur die termiete geskep nie, maar ontstaan as gevolg van erosie van die toring – hoofsaaklik weens reën en diere wat hulself aan die torings skuur. In Nigerië (waar die omajowas ook ryklik voorkom) het navorsing in gebiede met wisselende reënval (1 800 mm in die weste tot 3,400 mm in die ooste) gewys dat die voetstuk, afhangende van die oppervlakgrootte, maar net 0,07 mm per jaar styg. Deur dié Nigeriese besonderhede te vergelyk met ons neerslag van net 500 mm in die omgewing noord van Tsumeb met baie omstandighede wat nie vergelykbaar is met dié van Nigerië nie, het ek tot die slotsom gekom dat die miershoop op my plaas met ‘n basis van 40 meter in deursnee en 1,8 meter hoog inderwaarheid tot 500 000 jaar oud kan wees en geensins vergelykbaar is met die ouderdom van die oudste mensgeboude strukture op aarde nie.”

Die reuse-termiettoring op Reinhard en Yvonne Friederich se plaas wat hy op minstens 500 000 jaar oud skat.

Oor die rekord-oes van 105 omajowas op die voet van een termiet-toring, sê Reinhard dit is besonder merkwaardig. “Ná ‘n goeie reënseisoen en ander gunstige weerstoestande, kan gemiddeld tussen 20 tot 50 van dié omajowas rondom ‘n hoë termiet-hoop aangetref word. ‘n Oes van 105 op die voet van een toring gebeur net een uit ‘n duisend keer.” 

Hoe werk dit?

Van die sowat 2 000 termiet-spesies wat wêreldwyd voorkom, is 60 spesies in Namibië te vinde. Benewens die Macrotermes michaelseni wat, volgens Reinhard, die grootste torings of “skoorstene” bou en die omajowas-verskynsel veroorsaak, is daar ook twee ander Macrotermes-spesies in Namibië wat baie kleiner termiet-torings bou –  M. subhyalinus en M. vitrialatus.

Dié indrukwekkende insek, wat in ouderdom nader aan die kakkerlak-familie as die mierfamilie is, se intrinsieke voortplanting- en oorlewingstelsel stel hulle in staat om letterlik geboue van binne af weg te kalwe. Andersyds kan hulle nie net soliede “toringgeboue” oprig uit niks behalwe leem- en kleigrond en speeksel nie, maar letterlik “sterk, selfonderhoudende stede” bou. Ook nie sommer enige stad nie.

Die spreekwoordelike miernes van bedrywighede binne so ‘n termiet-kasteel spreek van verstommende vakmanskap en argitektoniese briljantheid. Danksy ‘n ingewikkelde netwerk van tonnels en strukture, spog enige termiet-kolonie met die mees gevorderde ventilasiestelsels, volhoubare voeding- en waterskemas (plase/kostuine) en lugversorging met die minimum uitskot en vermorsing.

Termiet-torings kan tot 3m die lug in toring. Boonop is die torings so solied dat baie inwoners in Afrika hul huise van termiethope se kleigrond bou.

Jan Tsumib, ‘n natuurbewaarder van Etosha, staan hier by ‘n treffende termiettoring waar duidelik gesien kan word hoe die toring noordwaarts wys om direkte sonlig op te vang.

Temperatuur-regulering:

Die verskillende spesies termiete se aanpasbaarheid stel hulle in staat om in uiterste temperature van tot 30 grade Celsius te oorleef. In droë klimaatstoestande soos Namibië volg inheemse spesies intuïtief die menslike beginsel van Australiërs in Coober Pedy wat meesal ondergronds lewe. Die Macrotermes michaelseni-termiete bou hul geboue ondergronds waar die bogrond basies as insuleerder dien teen groot temperatuurveranderings op die oppervlak. Met slim argitektuur wys die spits van die bogrondse toring boonop in ‘n noordelike rigting om die direkte sonstrale ten beste vir ventilasie te benut.

Selfonderhoudende kosplase of -tuine: 

Macrotermes michaelseni-termiete leef in afhanklike simbiose met die swam Termitomyces wat almal ken as die omajowa-sampioen. Die werker-termiete bou ‘n boord rondom die kasteel wat hul ondergrondse kostuin is. Hulle dra boombas en ander droë plantmateriaal daarheen, waarop die spesifieke swam (sampioen) floreer en dit boonop meer verteerbaar en voedsaam maak vir die termiet. Die Termitomyces-kultuur waarop die sampioene groei help om onverteerbare sellulose om te skakel in glukose wat ryk is aan minerale en ander voedingstowwe wat as standhoudende voedingsbron dien vir die hele termiet-kolonie.

Ventilasie of “skoorstene”

Volgens Reinhard is die termiete se bogrondse toring in werklikheid niks anders as ‘n skoorsteen nie – hoe hoër ‘n skoorsteen, hoe groter is die ventilasie. Hy verskil hieroor van ander kenners se teorieë en verklap meer daaroor in sy boek wat hopelik teen die einde van die jaar sal verskyn.  

Vogbeheer:  

Om ondergronds in droë klimaat in ‘n konstante temperatuur van ongeveer 30 grade Celsius te oorleef en hul kostuine te onderhou, bou die werker-termiete diep tonnels van etlike meter tot by die watertafel om ‘n vogbalans van 90% te handhaaf. Die swamkultuur (medium) waarop die sampioene groei het deurgaans ‘n waterinhoud van 38%  –  ook in droogtetye. Volgens Reinhard kan daar een tot selfs vier koninginne in die gebou wees wat voltyds deur die werkers gevoer en bedien en deur die soldate beskerm word. Hul enigste funksie is voorplanting en derduisende eiers word daagliks gelê. Hy meen dis onwaar dat die koningin glad nie beweeg nie –  sy moet daagliks effens rondskuif (1 cm per minuut) –  om ‘n opeenhoping van derduisende eiers onder haar te voorkom.

Instandhouding en restourasiewerk:

Moenie dink jy kan ongemerk ‘n gat in ‘n miershoop maak om te kyk wat binne aangaan nie. Reinhard vertel hy het by geleentheid uit nuuskierigheid ‘n gat in ‘n miershoop gemaak en hom met ‘n stoel en kamera langsaan tuisgemaak om te kyk wat gebeur. “Binne 15 minute was die ‘bouers’ daar om inspeksie te doen en die gat toe te maak en 4 ure later was die gat perfek toegebou! Hulle bou gelyk van alle kante – van bo na onder, onder na bo en aan die kante. Alles is taai. Wie is die inspekteur wat toesig hou en instruksies gee?” vra hy.

Die haas waarmee skade aan die torings herstel word, is waarskynlik om te keer dat die temperatuur, vogbalans en ventilasie nie lank versteur word nie. Volgens ‘n ander bron pak die eerste werkers wat skade aan ‘n toring opmerk dadelik grondlae bedek met ‘n chemiese afskeiding – feromone of reukhormone – wat ander werkers nader lok om dieselfde te doen. Dit het dadelik ‘n sneeubal-effek sodat duisende werkers so vinnig moontlik enige skade kan herstel.   

Uitswerwing om nuwe kolonies te skep

Een keer ‘n jaar –  gewoonlik in November of Desember ná ‘n goeie reënbui van 20 mm of meer in die namiddag  –  kry die termiete wat hul kort lewetjie ondergronds in stikdonker deurbring, die geleentheid om met die buitewêreld kennis te maak. Dit is wanneer die adel-termiete (toekomstige konings en koninginne met vlerke) vergesel van werkers en soldate, uitvlieg om elders ander kolonies te vestig. Hulle ken geen vyande nie, maar weet intuïtief om vir perfekte weersomstandighede ná sononder te wag.

Volgens Reinhard is die termiete ook gevoelig vir direkte sonlig en is ‘n bewolkte lugruim in die namiddae ideaal vir die voorbereiding van dié groot gebeurtenis.

” ‘n Opening vir die uitswerming word vooraf noukeurig gemaak – sowat 1 cm in breedte en tot 3cm in lengte – ongeveer in die hoek van die toring en voetbasis. Hoe donkerder dit word, hoe meer styg die aktiwiteite. Werkers en soldate verskyn later op die oppervlak om die wêreld te bespied en die omgewing voor te berei vir die ‘groot gebeurtenis’.” 

Gewenste toestande vir die uitswerming is:

20 grade C en meer in windstilte met absoluut geen reën nie. Verander dié omstandighede, dan swerm hulle nie uit nie en as die een kolonie nie uitswerm nie, dan swerm nie een van die ander kolonies in die omgewing uit nie. Die openinge vir die uitvlieg van die adel word eenvoudig toegemessel en hulle bly binne.

“As die toestande ideaal vir die uitswerming is, swerm hulle gewoonlik saans stiptelik om ongeveer 21:00 uit – nie voor 20:50 of later as 21:10 nie.

“My vraag is: Waar is die horlosie of tydsbepaling? Verander die weersomstandighede gedurende die halfuur van uitswerming, soos temperatuur, motreën of wind, word die okkasie dadelik stopgesit en as die een dit doen, doen al die ander in die omgewing dit ook.”

In goeie omstandighede swerm honderdduisende termiete (adel) uit. Volgens Reinhard het 576 000 termiete (34 kg) in die reënseisoen van 2018/19  uitgeswerm, terwyl heelwat minder in die daaropvolgende twee seisoene getel is weens minder gunstige toestande soos ‘n motreën en sterk wind wat hulle van koers af dwing.

Net ‘n breukdeel van ‘n persentasie oorleef 

 Hulle vlieg altyd na lig of helder voorwerpe toe – hetsy ‘n lamppaal of die maan se lig waar hulle ontmoet voor hulle verder vlieg. Van die derduisende aspirant-konings en koninginne (adel) wat uitvlieg, land net ‘n paar veilig by die verligte landingsplek.

“Hulle word langs die pad opgevreet vanaf die oomblik dat hulle bo die miershoop verskyn om uit te vlieg en ook by die landingsplek.”

Volgens Reinhard “wag” hul natuurlike nagtelike vyande soos slange, akkedisse, paddas, skerpioene, bakoorjakkalse, ens. letterlik vir hulle buite die miershoop vir die uitswerming-verskynsel.

“Moenie mense vergeet nie. Ons vang sakke vol van hulle met ‘n lig om die volgende dag te droog en te eet. Min mense het ‘n idee hoe lekker die gedroogte termiete is.”

” ‘n Groot brulpadda hoef net sy bek oop te maak en te sluk. Jy sien eintlik hoe hulle sukkel om die massas termiete afgesluk te kry.” 

“Ná ‘n lang vlug, land die handjievol oorlewende prinse en prinsesse by ‘n helder ontmoetingsplek waar hulle hul vlerke met hul agterpote afbreek omdat dit ‘n hindernis is. Die wyfies lig hul agterlyf in die lug op en skei feromone af om die mannetjies nader te lok. Van die miljoene wat uitgevlieg het, is dit gewoonlik net ‘n paar konings en koninginne wat suksesvol ‘n nuwe kolonie begin skep. Sover ek weet, is dit nog onseker hoe lank dit neem om so ‘n nuwe kolonie te skep en presies hoe dit gedoen word”, sê hy.

Manna uit die hemel

Reinhard glo dis dié jaarlikse massa-uitswerming uit ‘n kolonie wat teweegbring dat die oorblywende termiete nie al die kos in die kostuine kan baasraak nie en die sampioene dus deur die voet van die toring na buite groei. “Hoe groter die uitswerming, hoe meer omajowas vir mens, dier en voëls”, reken hy.

“Die omajowas verskyn gewoonlik sowat vier weke ná die uitswerming op die oppervlak, afhangende van die hoeveelheid reën in daardie tyd. Die lang wortels van die omajowas is bewys dat hulle direk uit die tuin van die Macrotermes michaelseni groei. Baie van die omajowas verskyn nie op die oppervlak nie omdat hulle deur die termiet-bevolking opgevreet word.”

“Die uitswerming is ‘n uiters belangrike gebeurtenis in ons ekologie omdat dit plaasvind op ‘n tydstip wanneer so baie diere en organismes in ons land van honger krepeer. Meteens val daar manna ryk aan proteïne uit die hemel en red die lewe van baie diere soos voëls, vlermuise, knaagdiere, reptiele, insekte en selfs bakoorjakkalse, aardwolwe en katte … en selfs mense in die verre verlede.”

Voorts verryk en belug die termiete se bedrywighede die grond rondom hul torings aansienlik danksy die mineraalryke leemgrond ryk aan fosfaat wat na die oppervlak gebring word. Die voedsame plantlewe rondom termiettorings is ‘n duidelike bewys hiervan.

Termiete een van oudste spesies en sal mense oorleef

Reinhard glo termiete sal mense oorleef en dat dié spesie die omstrede ewolusieleer ‘n finale nekslag toegedien het.

“Hulle is ná miljoene jare steeds onveranderd en het ‘n ingebore intelligensie – amper soos ‘n perfekte algoritme-program in hul DNA – om dié intrinsieke bou- en leefstyl te skep en te handhaaf wat steeds die menslike verstand te bowe gaan.”

 * In Swakopmund se museum is ‘n ou versteende termiet-toring met ‘n geskatte ouderdom van 17 miljoen jaar.

Die ou versteende termiet-toring in die Swakopmund Museum wat op 17 miljoen jaar oud geskat word.

* Reinhard skroom nie om van ander kenners te verskil oor sommige aspekte van die Macrotermes michaelseni-termietspesie nie wat hy “saam met moedersmelk ingekry het”. Hy praat vlot Afrikaans, Engels, Duits en Boesmantaal – laasgenoemde waarvoor hy ‘n besondere liefde het omdat hy saam met hulle grootgeword het.

Reinhard Friederich se baanbrekersboek oor die Hai//om Boesmans van Etosha “Verjagt, verweht, vergessen” is in 2009 gepubliseer en vanweë internasionale belangstelling is ‘n Engelse vertaling in 2014 gepubliseer.
Verjagt, verweht, vergessen : die Hail̳l̳om und das Etoschagebiet
Etosha : Hail̳l̳om heartland : ancient hunter-gatherers and their environment 

Reinhard Friederich (heel regs) tydens die bekendstelling van die Engelse vertaling van sy boek oor die Hai//om Boesmans van Etosha. Foto: ‘n Kosbare stuk kultuurerfenis. By die onlangse bekendstelling van die boek Etosha: Hai//om heartland is van links Horst Lempp (redakteur), Jan Tsumib (enigste oorlewende van ‘n groep van nege Hai//oms wat gehelp het met inligting en die brawe Reinhard Friederich wat op 75 jaar die vreugde van lesers kon smaak van die Engelse weergawe van sy Duitse boek Verjagt… Verweht… Vergessen… Die Hai//om und das Etoshagebiet.  https://www.facebook.com/photo/?fbid=588281261274235&set=boer-se-baanbrekerswerk-om-boesman-kultuurerfenis-te-laat-voortleefgebore-uit-sy

Reinhard Friederich se baanbrekersboek oor die Hai//om Boesmans van Etosha “Verjagt, verweht, vergessen” is in 2009 gepubliseer en vanweë internasionale belangstelling is ‘n Engelse vertaling in 2014 gepubliseer.
Verjagt, verweht, vergessen : die Hail̳l̳om und das Etoschagebiet
Etosha : Hail̳l̳om heartland : ancient hunter-gatherers and their environment 

* Hoe weet jy aan ‘n Boesman se praat of hy links- of regshandig is? “Wanneer hulle die tongklap-klanke maak, plaas die linkshandige Boesman sy tong in die linkerkantse wang en omgekeerd”, sê hy.

* Reinhard en sy vrou, Yvonne, is in November 2020 deur die streeklandbou-unie vir Grootfontein, Tsumeb en Otavi vereer vir sy emorme bydrae tot georganiseerde landbou en die Namibiese samelewing oor ‘n tydperk van sestig jaar. Hy was onder meer betrokke by die opleiding van opkomende boere, bodemherwinning en die bewaring van die Boesmans se kultuurskat.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *