Krumhuk-kragspan neem voortou in suidelike Afrika met volhoubare, organiese landbou

Verbeel jou – ‘n stuk grond van 8 500 hektaar tussen berge in die ongerepte natuur waar wild soos koedoes, gemsbokke, springbokke, sebras en hartebees nog vrylik gedy . . . en ‘n multi-kulturele gemeenskap van 85 mense wat feitlik selfversorgend lewe in die natuur, met die natuur en van die natuur.

Boorde vol pampoene, tamaties, soetrissies, beet en wortels so kleurryk, groot en gesond dat jy dit skaars herken . . . en binne ‘n halfuur word genoeg vars groente en kruie uit die kweekhuis geoes om binne ‘n japtrap ‘n koningsmaal te berei vir ‘n hele afvaardiging media-verteenwoordigers. Om die waarheid te sê, is die afvaardiging 20 minute gegee om self sowat 20 verskillende groente- en slaaie te gaan oes en nog 20 minute om hul eie pizzas en slaai te maak – met kaas wat ook self op die plaas gemaak word!

Boorde vol organiese groente, kruie en gewasse groei geil en gesond sonder enige kunsmatige kunsmis, gifstowwe, GMO of ander skadelike chemikalieë wat die grondbalans versteur.

Die Krumhuk-wildplaas en gemeenskapboerdery in die Khomas-gebied van Namibië is die land se eerste bio-dinamiese plaas en vandag bekend as die beste voorbeeld in Suider-Afrika van volhoubare, bio-dinamiese, organiese en gediversiveerde boerdery. Hier word gespesialiseer in beesboerdery, tuinbou en voedselproduksie deur die gebruik van biodinamiese tegnieke wat die grond verryk en die omgewing bewaar.

Die groente en kruie groei geil sonder enige kunsmatige bemesting of gifstowwe.

Vorige geslagte het lank só geboer en dit sommer gemengde boerdery en wisselbou genoem om seker te maak die grondstowwe word nie uitgeput nie en dat daar genoeg van alles is indien een van die sektore weens droogte, swak oeste of ander faktore swaarkry.

Vandag is daar ‘n internasionale neiging om terug te keer tot dié holistiese vorm van boerdery sedert die wêreld se massa-voedselproduksie in die moeilikheid is. Intensiewe spesialisboerdery, chemiese bemesting en gifstowwe, oorbeweiding en natuurfratse het deur die jare sy tol geëis sodat bewerkbare landbougrond en weiding vandag totaal ontneem is van noodsaaklike voedingstowwe en mikrobes.

Op Krumhuk word die plaas beskou as ‘n lewende organisme en word daar in volhoubare simbiose met die natuur gelewe. Varke, beeste en hoenders verskaf vleis, melk en eiers om in hul eie slaghuis en suiwelproduksie se behoeftes te voorsien.

Almal wat op die plaas woon en werk, is intensief betrokke by die boerdery en niks word vermors nie. Wat nie as bemesting of varkkos gebruik kan word nie, word vir ander gebruike ingespan en selfs van die meubels word self gemaak of herstel op die plaas.

Die grond word sagkens bewerk en verskillende plante word in kombinasie langs mekaar geplant om optimale groei en plaagbeheer te verseker, bv. uie, wortels, kool en beet; of kruie, knoffel en blomme.

Opvoeding en gemeenskapsbetrokkenheid speel ook ‘n belangrike rol in die Krumhuk-filosofie en beleid. Die plaas spog met ‘n kleuterskool en ‘n leersentrum waar inwoners se kinders van jongsaf geleer word waar kos vandaan kom en hoe om in harmonie met die natuur te lewe. Daarbenewens word opleidingsprojekte ook in samewerking met plaaslike universiteite gereël. Die 85 inwoners uit alle uithoeke van Namibië en Europa praat gesamentlik ses verskillende tale en het ook ‘n ryk sosiale lewe. Drie feeste word jaarliks op die plaas gehou en ‘n klein kerkie en koor bied gesellige samesyn.

Die pragtige kleuterskooltjie op Krumhuk waar tien van die jongspan saam speel en leer. Die leersentrum vir kinders van graad 1 tot 3 het tans 15 leerders. Die kinders help voer en versorg die diere en leer van jongsaf hoe volhoubare, organiese boerdery in simbiose met die natuur werk. Die ouer leerders word per bus na Windhoekse skole vervoer.

Krumhuk is baie meer as net ‘n bio-dinamiese plaas – dit is ‘n ideale voorbeeld van hoe ‘n multi-kulturele gemeenskap in harmonie met die natuur, gesond, selfversorgend en volhoubaar kan lewe deur organies te boer met ‘n wye verskeidenheid dier- en plantspesies wat mekaar aanvul.

Net deur vir die natuur te sorg, kan die natuur vir ons sorg?

‘n Media-dag om die Krumhuk-beginsel landwyd bekend te stel, is verlede maand in samewerking met Namibië se Organiese Vereniging (NOA) op die plaas aangebied. * Meer oor NOA onderaan.

Die groep Namibiese mediaverteenwoordigers saam met lede van die Namibiese Organiese Vereniging (NOA) en die “baas van die familieplaas”, Clemens Voigts (middel) wat nou as ‘n Artikel 21 bio-dinamiese boerdery en gemeenskap bedryf word met sewe direkteure in toesighoudende hoedanigheid. 

Clemens Voigts, wat as vierdegeslag-lid van die familieplaas op Krumhuk gebore en getoë is, het twee jaar gelede die leisels saam met drie kollegas by sy pa Ulf oorgeneem. Hy vertel: “Die plaas dateer uit die vorige eeu en die plaashuis se mure is in 1900 gebou. Dit was aanvanklik oorwegend ‘n beesplaas waar skape en perde ook aangehou is. In die 1980’s het my Pa die boerdery oorgeneem en in 1996 het hy in vennootskap met ‘n Duitse gesin (Christiane Ahlenstorf), die bio-dinamiese organiese onderneming begin. Krumhuk is nie jou gewone plaasopset nie – die onderneming het ‘n baie spesifieke struktuur, grondwet en eienaarskap onder Artikel 21 as ‘n nie-winsgewende maatskappy met sewe direkteure wat slegs moet toesien dat die land en bates onderhou en die visie en grondwet noukeurig uitgevoer word.

“Jy kan sê die plaas word eintlik besit deur ‘n “idee” – ‘n vierledige visie wat in ‘n grondwet vervat is. Die vier hoekstene is volhoubare, holistiese, organiese en gediversiveerde land- en akkerbou wat die natuur en omgewing bewaar en beskerm; ‘n multi-kulturele gemeenskapsaspek wat bepaal dat almal wat op die plaas woon, direk betrokke is by die verskillende aspekte van die boerdery; ‘n opvoedingsaspek om die gemeenskap te bemagtig in holistiese, organiese land- en akkerbou; asook ‘n ekonomiese aspek om wins te maak uit die produkte en wildlewe.”  

Met die inry-slag word gaste begroet deur verskeie wildspesies wat vrylik in die boomryke savanna-landskap wei. Met die stilhouslag by die imposante hoofgebou kom iemand met twee emmers melk van die koeistalle af aangestap. Drie varke wei rustig in ‘n kamp terwyl ‘n paar hoenders in die veld skrop.

By die kwekerye onder skadunette is verskeie inwoners tussen die kleurryke beddings aan die werk. Die grond word sagkens bewerk en ‘n kleurvolle kennisgewing pryk tussen die boorde: “Kyk waar jy trap – ons lewe!” Dis dié beginsel – dat alle organismes en mikrobes in die natuur lewend en noodsaaklik is vir ‘n gebalanseerde geheel – wat die nuwe gonswoord “herlewingslandbou” onderskryf.

Krumhuk spog met 360 Nguni-beeste, 25 varke wat jonk verkoop of vir plaaslike gebruik en verkope geslag word, 50 suiwelbeeste waarvan 20 gemelk word vir verskillende suiwelprodukte (roomkaas, kaas, joghurt en kefir) wat op die plaas gemaak word en 70 lê-hoenders wat daagliks 40-50 eiers verskaf.

Namibiese joernaliste leer meer oor die fynere aspekte van organiese akker- en landbou by Krumhuk se tuinbestuurder, Dirk Bockmühl, wat ‘n meestersgraad in biologie in Swede verwerf het. Niks word vermors nie – dieremis, skille, afvalprodukte en onkruid word alles as kompos verwerk, terwyl wurm-kompos (vermi-kompos) en bio-char ook op die plaas gemaak en gebruik word. Deklae van gras en peulgewasse voorkom dat die grond en plante uitdroog of verskroei.

Vrugbare grondpraktyke behels dat noodsaaklike voedingstowwe op ‘n natuurlike manier in die grond behoue bly deur prosesse wat nie die ekologie versteur nie. Geen kommersiële insekdoders, GMO’s, hormone of ander chemiese middels word gebruik nie. Op Krumhuk word ‘n verskeidenheid organiese praktyke gevolg om grondgesondheid te bevorder en uitdroging te voorkom: wisselbou (gewas-rotasie); kompos-tee (vermi-kompos), dieremis-kompos, plante en insekte wat voordelig is vir die ekologie, diverse deklae van grasse, peulgewasse en onkruid, bio-char en deur verskillende gewasse en plante in kombinasie by mekaar te plant vir optimale groei en plaagbeheer, bv. uie, wortels en beet of krulkool (kale), beet, uie en spinasie.            

Dieremis, kombuisafval, gras en droë plante-afval gaan na die “warm” komposhope waar dit met going of ander materiaal bedek word om in die son “ryp” te word. Dit word elke 2 weke omgespit en die mikrobes vernietig alle gifstowwe en saad-patogene.
Wurm-kompos (vermi-kompos) en bio-char word ook op die plaas gemaak en gebruik om noodsaaklike voedingstowwe in die grond terug te sit.
Bio-char word ook op Krumhuk gemaak deur hout teen verhoogde temperature te verbrand sodat die houtskool meer water absorbeer en help om die grond klam te hou.

Inkomste-bronne:

Krumhuk se wye verskeidenheid organiese produkte word Saterdae by die Green Market in Windhoek verkoop, asook by kleiner markies en by supermarkte. Die produkte sluit in tuisgebakte brood, suiwelprodukte, vars groente, wild- en beesvleisprodukte, kruiesout en sonneblomolie. 

Krumhuk het ook sy eie bakkery en is bekend vir hul plaasvars brood en fyngebak. Sondae se gewilde “koffie-en-koek”-kuiers van 3-5 nm. is ‘n groot trekpleister. Die perseel kan ook vir spesiale geleenthede gehuur word. 

Gaste kan ook tuisgaan in die drie gerieflike Sarima-gastehuise op Krumhuk wat veral gewild onder buitelandse toeriste is wat ‘n ware Namibiese ervaring in die natuur soek. Dit sluit wildritte en staproetes op die plaas, asook trofeejag in om die wildgetalle gebalanseerd te hou.

NOA is ‘n lidgebaseerde vereniging wat hom beywer om volhoubare organiese landbou in Namibië te bevorder. Die vereniging is in 2009 gestig deur ‘n groep dinamiese boere en verbruikers. Hulle verteenwoordig dié bedryf in belang van landbou by beleidsmakers, die media en ander aandeelhouers. NOA bevorder ook die belange van die groeiende organiese verbruikersmark, terwyl hulle organiese boere bystaan met assessering en die uitreiking van waarborg-sertifikate. NOA se hoofdoel is om deur opleiding en bemarking ‘n volhoubare landbou-bestuurstelsel in Namibië te vestig – veral in organiese landbou.

Lees meer hier oor NOA: www.noa.org.na of www.noa.na of info@noa.org.na

Wat is die verskil tussen organiese en bio-landbou?

In Europa verwys “Bio” na biologisch wat organies beteken. In suidelike Afrika verwys dit na biologies wat ‘n volhoubare landboumetode met meer biologiese benaderings impliseer, maar steeds chemikalieë gebruik in die produksie en nie die sistemiese organiese benadering volg nie. Organiese produkte word streng beoordeel en moet aan streng internasionale standaarde en vereistes voldoen om as suiwer organies gesertifiseer te word. Organiese produkte kan duurder of goedkoper as kommersieel-vervaardigde produkte wees afhangende van die vraag en aanbod in ‘n bepaalde gebied. Verskuilde koste in organiese produkte behels die omgewingsvriendelike benadering om die omgewing te beskerm; hoër standaard van dierebeskerming en die uitskakeling van gesondheidsrisiko’s vir verbruikers en boere weens blootstelling aan skadelike chemikalieë. Organiese produkte behoort altyd ‘n etiket as bewys van sertifisering te hê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *