Namibiërs het in Februarie vanjaar haar stem op ‘n selfoon-video gehoor wat wyd en syd in Namibië en elders gaan draai het. Op die video beskryf ‘n opgewonde vrouestem in Duits, Afrikaans en Engels ‘n rekord-oes van 105 omajowas wat vanjaar ná goeie reën op die voet van ‘n enkele termiettoring op ‘n plaas gekry is.

Toe Agriforum ná ‘n lang soektog uiteindelik ‘n telefoonnommer vir die mens agter die stem opspoor en per whatsapp meer besonderhede oor haar en die omajowas soek, kom die antwoord: “Dis Trudi van die plaas Eckenberg (noordoos van Okahandja) waar ons ook dwarsdeur die jaar vrugte uit ons eie biotuin eet en verkoop wat vanjaar hierdie besondere omajowa-seisoen en natuurwonder belewe.”
Geprikkel deur dié spontane antwoord, word ‘n volgende boodskap gestuur om uit te vind wat haar van is en of sy anoniem wil bly op die video. ‘n Paar dae later volg hierdie interessante mondvol. “Nee, dis Trudi Simoni, ‘n 66-jarige natuurgeneeskundige wat al oor die 40 jaar navorsing doen oor die natuurlike gesondheid van grond, plante, diere en mense . . . en baie stories te vertel het oor ‘n lewe wat haar geneem het van Karibib na Kaapstad vir skool; na Johannsburg vir studies in natuurlike geneeskunde; na Buluwayo en Harare waar die eerste van drie seuns gebore is.
“Hulle is trots dat hulle elke maand van die vrugte en groente uit hul eie tuin kan oes en ook verkoop – alles sonder om in 40 jaar ooit enige gif of kunsmis op hul vrugte te gebruik. Hulle het ook ‘n ‘energy-mix’ van verskeie hernubare energiebronne sedert 25 jaar terug opgebou en is heeltemal onafhanklik van Nampower / die nasionale kragnetwerk.
“As natuurgeneeskundige hou sy die natuurlike gesondheid en lewensverwagting van grond, plante, diere en mense dop en is gekant teen enige onnodige spuite met onbekende en onbepaalde bestanddele/inhoud.
“Marco (71) en sy, 66, is op geen medikasie nie. Hy gaan draf-loop nog maklik en gereeld 10 km langs die (plaas)grense.”
Nou ja, soos die gesegde lui: Só ‘n mond kort jêm en Trudi is dié uitgawe se Vroueblad-heldin.
Dis nie maklik om haar in die hande te kry nie. Die whatsapps vlieg heen en weer. Sy stuur ‘n foto waar sy ‘n rinkhals vashou: “Ek vang en hervestig slange soos pofadders, kobras, luislange asook likkewane en geitjies omdat hulle noodsaaklik is vir die balans in die natuur. Ons het ook bye wat al 48 jaar ons eie heuning verskaf en ek maak ook kerse van ons byewas.”

Trudi gebruik meesal ‘n slangstok om gevaarlike slange te hervestig.

‘n Ander boodskap lui: “Jammer, sal vanaand eers tyd kry om te praat. ‘n Hele hartebeesbul moet verwerk en in die koelte gekry word om te pekel. Moet rookvleis, biltong en wors maak en dit kan ongelukkig nie wag nie.”


In lewende lywe is dié skrale bondeltjie energie nie ‘n oomblik stil nie. Dit kos moeite om die woordevloed en handgebare kort-kort te onderbreek om ‘n vraag in te kry.
Dis nog moeiliker om te glo dat dié fyngeboude lyfie ‘n spoegkobra of ‘n rinkhals sommer agter die kop gryp en iewers in die veld gaan vrylaat. Of die oulike leersandale aan haar voete self gemaak het van koedoeleer.

Gebore in Windhoek, getoë op Sandveld-plase in die Otjosondu-omgewing waar haar ouers geboer het. Daarna ‘n plaasskooltjie op Goedemoed in die Hochveld-omgewing en toe na Karibib om laerskool te voltooi. Hoërskool- en koshuislewe aan ‘n private skool in Kaapstad voordat sy natuurlike geneeskunde aan die Homeopathic Medical College of SA in Johannesburg studeer het. ‘n Gebore, berese en belese natuurmens met ‘n onuitputlike en byna kinderlike drang na kennis oor hoe die natuur en natuurwette werk en tot voordeel van grond, plant, dier en mens ingespan moet word.

Terwyl sy vertel van haar grootwordjare in die Sandveld, kan ‘n mens haar in jou geestesoog eintlik kruisbeen “sien” sit saam met die Boesmanvroue wat haar geleer het hoe om dun, sterk garings te draai uit die skoongekoude, rou, nat vesels van ‘n gemsbok se lang rugsening. “Met die garing het ons dan sakke van wildsleer gemaak waarin die gedroogde bessies en veldkosse vir die koue wintermaande gebêre is. Ons het ook bont glaskrale en sagte leer gebruik om gordels en haarversierings te maak.”
By haar ouma Hidegard het sy geleer om van koedoeleer en seildoek sandale en kamaste te maak om jou bene te beskerm teen steekgrasse, insekte en slange. Sy maak vandag steeds soms sandale as die gier haar pak.

In Johannesburg het die jong Trudi se paaie destyds met die liefde van haar lewe gekruis. Marco, ‘n Switserse tekenaar in die boubedryf. Hulle het spesiaal in Okahandja kom trou sodat haar familie deel kon wees van die verrigtinge. Toe Marco se maatskappy hom later Buluwayo en Harare toe stuur, is sy saam. Dis waar hul oudste seun Mark (41) gebore is. Die finansiële beleid in Zimbabwe het ná onafhanklikheid onhoudbaar geword. Uitkoms het gekom toe Marco ‘n goeie posisie by die Selebi-Phikwe-myn in die ooste van Botswana gekry het en die gesinnetjie soontoe getrek het. Siekte in Trudi se familie het hulle in die laat 1990’s teruggelok na die familieplaas by Otjosondu.
Hier het hulle noodgedwonge uitgehelp, maar Marco het die boerdery en plaaslewe saam met sy skoonpa so geniet dat hulle later 12 jaar lank ‘n 13 000 hektaar plaas by Ombotozo bestuur het, waar die laatlam-seuns Michael (34) en Claudio (29) gebore is. Daarna het hulle hul eie plasie Eckenberg gekoop. Hulle het deeltyds geboer terwyl Marco weer in die boubedryf in Windhoek gewerk het sodat die drie seuns hul skoolloopbaan uit die huis in Windhoek kon voltooi. Al drie seuns het ná skool in Switzerland gaan studeer en woon steeds daar, behalwe Mark wat deesdae in Noorweë woon en werk.

“Ons het ons seuns van jongsaf geleer om alles te doen en onafhanklik te wees sodat hulle onder alle omstandighede en op enige plek kan en moet oorleef. My oupa het ons geleer: “Kannie is lankal dood en Wilnie is langsaan begrawe. Wysmyhoe en Eksalprobeer het `n lang en goeie lewe.”
“As Sandveld-kind het ek daarvan gehou om saam met ‘n Boesman-familie agter Pa se bok- en skaaptroppe aan te loop en oor die veldkosse te leer – ook hoe jy slange en skerpioene vind en hanteer. Ek eet dus van kleinsaf graag die verskillende bosbessies, velduie, veldspinasie, bosneute en boomgomme, asook al die ander veldkosse soos mopaniewurms en vlieënde termiete, vars gebraai en liggies gesout. Jy sal ook gedroogde mopaniewurm-snacks tussen my klomp flesse gedroogde vrugte, kruie en korings, soos chia en quinoa, kry. Ons plant en gebruik ook gereeld genesende kruie as tee, tinktuur of aftreksels.”
Dis dié ingesteldheid en hul respek vir die natuur wat Marco en Trudi bemagtig het om op Eckenberg ‘n idilliese klein paradysie te vestig waar hulle grootliks onafhanklik en selfversorgend lewe en sy steeds haar belangstellings kan navors en beproef. Eckenberg was seker een van die eerste Namibiese plase wat al in die 1990’s sonpanele, windturbines, parabool-spieëls, sonoonde en ander natuurlike kragbronne gebruik het. Drinkbare boorgatwater wat met sonkrag gepomp word en ‘n groot plaasdam sorg dat die gemengde boerdery met sy wye verskeidenheid vrugte en groente, asook ‘n ryk wildlewe, deurgaans floreer.

“Ons jag nie baie nie en daarom is hier nog baie gemsbokke, koedoes, hartebeeste, asook steenbokkies, springbokke, duikers en rare wildspesies soos erdvarke, luiperds, jagluiperds, vlakvarke, ystervarke en aardwolwe”, sê Trudi.
“Ons voel geseënd om elke maand ‘n groot verskeidenheid vrugte en groente uit ons eie tuin te oes om te eet, te droog of in te lê. Ons ingelegde vrugte bevat min suiker omdat ons self feitlik geen suiker gebruik nie. Ons het sowat 25 verskillende soorte vrugte benewens die klomp veldvrugte. Gebraaide en gesoute vlieënde miere of mopaniewurms is ook ‘n lekkerny en in goeie reënjare is daar ook die omajowas. Dié groot verskeidenheid maak die lewe ryk en meer volhoubaar om erge klimaatskommelinge en weersveranderinge te oorleef wat wêreldwyd in periodieke siklusse voorkom.”

Trudi glo ook in ‘n wye verskeidenheid van groente in hul dieet. Hul groentetuin spog met alles van kool, broccoli, wortels, beet, tamaties, slaai, kenna, kasawa tot mielies en mahanga. “Ek glo verskeidenheid en balans is noodsaaklik om volhoubaar en gesond te lewe. Die Westerse afhanklikheid van medikasie en tegnologie het ons tot op die rand van ‘n afgrond gebring en hoe gouer mense leer om nader aan die Skepper se natuur en natuurwette te lewe, hoe gouer kan ons al die wanbalanse begin regstel.”

Die Simoni’s se uiteenlopende passies en belangstellings sorg vir ‘n formidabele wenresep. Marco se uitgebreide kennis en ervaring van die internasionale boubedryf stel hom in staat om die meeste loodgieter-, bou- ,messel-, sweis- en instandhoudingswerk op die plaas self te doen. ‘n Ten volle toegeruste werkkamer met alle gereedskap sorg dat hy meganiese en konstruksieprobleme self kan hanteer, terwyl Trudi haar liefde vir argelogie, kuns en holistiese geneeskunde ten volle kan uitlewe.

Sy gebruik meesal groente uit hul eie organiese groentetuin, maak self volkoringmeel en bak gereeld broodrollejies en plaasbrood in die sonoond. Haar plaaswerkers uit die Kavango en Caprivi het haar ook baie geleer van hul eiesoortige kostradisies en hoe om Mahango te stamp om die lekkerste pannekoeke te maak.

Danksy die verskeidenheid van songedrewe en alternatiewe kragbronne het hulle deurgaans genoeg groenkrag om in al hul huishoudelike behoeftes te voorsien – twee vrieskaste, twee yskaste, stoof, elektriese ketel, wasmasjien, ligte en TV, hoewel laasgenoemde selde of ooit gebruik word.
‘n Outydse “koelkamer” wat nog met water en steenkool werk om die temperatuur 10-15 grade C koeler as die omgewingstemperatuur te hou, word gebruik om vleis te bewerk en kosprodukte te stoor, terwyl ‘n kerkie ook op die plaas pryk.

Trudi erken dis nie maklik en winsgewend om biologiese vrugte en groente te kweek nie. “Kopers vergeet dat vrugte net een of twee keer ‘n jaar ryp raak en geoes kan word. Dan moet jy eers weer ‘n hele jaar wag vir die volgende vrugteseisoen. Dis seker hoekom min mense met vrugte boer .Ook omdat vrugte net so gewild is by allerhande vlieë, motte, skoenlappers, goggas, voëls, diere, bobbejane en mense oor hul heerlike geur en helder kleure”, spot sy.

“Vrugte word in golwe ryp – skielik het jy ‘n oorvloed wat jy moet bemark of verwerk. ‘n Mens moet ook deurgaans die boorde fyn dophou om te kyk of die bome, blomme en jong vruggies gesond is, of daar ‘n insekplaag broei, of die boom meer water of natuurlike kompos benodig, ens. .
“Die druiwestokke – nege verskillende variëteite – word jaarliks gesnoei en in sakkies toegedraai teen voëls en insekte-skade. Ons span ook nette oor sommige van die vrugte soos kwepers en granate en sommige word individueel toegedraai of met optiese blinkers teen voëls beskerm. Sonder dié noodsaaklike moeite en aandag sal ons maar min of niks oes nie.”
“Omdat ons geen insektegif gebruik nie, span ons lokvalle in om insekplae op ‘n natuurlike manier te bekamp. Die sap van gesteekte of beskadigde vrugte (soms met ‘n bietjie asyn by as lokmiddel) word in oop 2-liter bottels (soos die 2 l melkbottels) in die bome gehang. Ons gebruik tot 80 2 l melkbottels wat ons in die dorp of by vriende kry vir dié lokvalle. Daar moet ‘n paar druppels skottelgoedseep by die sap gevoeg word sodat die vrugtegoggas, vlieë en motte vinnig verdrink en nie eet en uitklim nie. Die bottels moet so 2 keer per week uitgespoel en die inhoud vervang word. Dit is ‘n selektiewe manier om net die insekte te vang wat skade aanrig. Soms sit ons ook snags ‘n insekte-ligval aan.”
Trudi se grootste passie bly die natuur en die geheime daarvan wat toenemend deur die mensdom geïgnoreer word.
“Die lewe gaan oor oorlewing en volhoubaarheid en daarvoor is verskeidenheid so noodsaaklik. Ons moet die mikrobiome in die grond beskerm. Die skepping bied so ‘n groot verskeidenheid van alles – verskillende soorte unieke vrugte, groente, plante en gewasse – wat elkeen iets unieks bied en noodsaaklik is vir die balans van die geheel. Ons vernietig dié balans en unieke eienskappe met tegnologie wat op die einde ons eie ondergang veroorsaak.”