Elsa Wessels
Die Anatoliese herdershond en Australiese beeshond met hul aggressiewe en beskermende waghond-instinkte moet nie verwar word met die immer-gewilde skaaphond (borderkollie of kelpie) nie. Hoewel al drie onontbeerlik diens aan veeboere kan lewer, is hul funksies en geaardhede heeltemal verskillend.
Die skaaphond is wêreldwyd bekend vir sy ingebore instink om as tropleier skape, bokke en selfs beeste aan te keer en te stuur. Hul ingebore skaapwagter-instinkte om te stuur en te lei is om die waarheid te sê só sterk dat hulle ook hoenders, kinders en verdwaaldes sal aankeer en veilig hok of huis toe lei as die geleentheid hom voordoen.

Baie Namibiese boere gebruik skaaphonde met groot sukses saam met een van bogenoemde rasse om in verskillende behoeftes op hul plase te voorsien. Waar die Anatoliese herdershonde voltyds die vee volg en beskerm en snags by hulle in die kampe slaap, is die borderkollie meer ‘n gesinshond op die werf wat opdragte uitvoer om veekuddes te lei en aan te keer. Hul stamina en vermoë om vee vinnig en sekuur oor ver afstande aan te jaag of bymekaar te maak, is legendaries. Baie boere vertel ‘n enkele skaaphond vermag meer binne ‘n uur om diere aan te keer as wat tien werkers sou kon regkry. Hulle word spesifiek geteel en opgelei om onafhanklik te dink en werk met veekuddes.
Timm Miller, bekroonde bewaringsboer van die Helmeringhausen-omgewing, is een van die Namibiese boere wat al dekades lank skaaphonde en Anatoliese herdershonde suksesvol saam op die plaas inspan en met beide rasse teel. Hy was nog nooit sonder skaaphonde op die plaas nie en het tans net drie tewe, Vicky, Phoebe en Emma oor nadat sy eie top-teelreun Spot aan ouderdom dood is.

“Ek soek nou juis weer ‘n kampioenreun om Spot se sterk genepoel deur Emma en Phoebe voort te plant. “
Timm meen benewens skaaphonde se ongelooflike intelligensie en veelsydigheid, is hul “keer-instinkte” en vermoë om vee so vinnig en stresvry deur drukgange te kry, hul beste eienskappe. “Hulle is uiters doeltreffend en verkort die stresperiodes vir diere wat gedip, gedoseer of ingespuit moet word, geweldig baie.”

Hy maan egter dat die verskillende rasse van kleinsaf aan mekaar bekendgestel moet word om verwarring en konflik te voorkom.
“My skaaphonde vergesel my oral op die plaas en as ek veeposte ry, maak ek seker nuwe Anatoliese herdershondjies wat in opleiding is, leer ken en beruik die skaaphonde sodat hulle van kleinsaf gewoond raak aan mekaar en hul verskillende pligte verstaan.”
Die borderkollie word as die intelligentste honderas bestempel en word al meer as ‘n eeu lank spesifiek vir dié eienskap geteel. Hulle is buitengewoon energiek, maklik om op te lei en het ook ‘n sterk werketiek.

Kenners meen dié honderas kom oorspronklik uit die laaglande en grensgebiede van Engeland en Skotland. Hul voorsate kan teruggevoer word na die 1700’s en stam vermoedelik uit ander kollie-rasse soos die baardkollie, Skotse kollie met selfs spanjoelbloed in die genepoel. In die 1900’s het hulle veral gewild geraak onder die Britse adelstand en vandag is hulle steeds bekend as die beste werkhonde op plase om vee te stuur, te lei en bymekaar te maak. Een van dié ras se kenmerkende eienskappe is hul doeltreffende ooggebruik om vee te intimideer deur stip na hulle te staar.

Danksy hul veelsydigheid en intelligensie is hulle ook uitstekende gesinshonde, solank hulle nie ingeperk word nie en baie oefening kry. Hulle reageer goed op aanprysing en is baie beskermend teenoor kinders, hul gesin en terrein. Borderkollies word ook dikwels deur die polisie gebruik om misdadigers aan te keer, asook om dwelms en bomme op te spoor.
Nog ‘n Namibiese boer wat letterlik met skaaphonde op die plaas grootgeword het en nou ook een van Timm Miller se honde het, is Theuns Coetzee van die klipperige Bethanië-omgewing. Hy vertel sy pa en ‘n paar ander boere was dekades gelede die eerstes wat skaaphonde hierheen gebring het.
“My pa het geglo jou eerste skaaphond leer jou en daarna moet jy maar probeer om hulle verder te leer. Elke hond se persoonlikheid, temperament en geite verskil. Dis belangrik om dit in ag te neem en nie hul ingebore keer-instinkte dood te maak wanneer jy hulle leer nie. Hulle moet sagkens touwys gemaak word sodat hulle instinkte bestuur en nie onderdruk word nie”, sê hy.
Theuns verkies tefies bo reuntjies en glo as borderkollies reg hanteer en geleer word, kry jy nie ‘n slimmer en beter werkhond om kleinvee vinnig en doeltreffend aan te keer en bymekaar te jaag nie. Hoewel hy borderkollies bo kelpies verkies oor hul tradisioneel saggeaarder is, meen hy kelpies werk beter by beeste.
“Die kelpie is meer hardekwas en robuust en laat hom nie afskrik deur ‘n skoppende bees nie, terwyl die minder aggressiewe borderkollie maar swaarkry tussen befoeterde beeste.” Theuns beveel aan dat boere wat skaaphonde wil aanskaf, eers ‘n skaaphond-kursus volg en seker maak hulle koop ‘n goeie werkhond uit ‘n goeie bloedlyn soos dié waarmee Timm teel.
Ook Timm beklemtoon die belangrikheid van ‘n goeie bloedlyn. “Dit is noodsaaklik om te weet wie die pa, ma en oupa was en seker te maak hulle was goeie werkhonde. Die nuwe neiging in stede om skaaphonde op te lei en te teel vir hindernis-kampioenskappe, balspeletjies en om frisbee’s te vang, veroorsaak dat die keer-instink heeltemal verdwyn en uit die ras geteel word. Sulke honde beteken niks vir ‘n veeboer nie omdat hulle glad nie meer die ingebore instink het om vee aan te keer en te stuur nie”, maan Timm.

Hy teel spesifiek skaaphonde met die kort- en mediumhaarlengte wat meer geskik is vir Namibië se warm klimaat. Namibiese borderkollies moet by die SA Borderkollie-telersvereniging geregisteer word omdat ‘n soortgelyke vereniging nog nie hier bestaan nie. Timm is ook beskikbaar om raad en wenke oor skaaphonde te gee.
“Met ‘n goeie, naspeurbare bloedlyn en behoorlike, volgehoue opleiding waarmee van jongsaf begin word, is daar min of geen honderas wat met ‘n borderkollie op ‘n plaas kan vergelyk nie.”

