Bubu’s Animal Haven – Kamanjab se eie diere-oord danksy Ma Reni met die kombi-hart vir opteldiere

Haar beesboerman Rinus (49) noem haar speels ‘n “nagmerrie” omdat sy geen afvlerk of -been diertjie kan uitlos nie. Vir verdwaalde, beseerde of verstote diere in Namibië is Reni van der Merwe (48) egter die naaste wat ‘n dier ooit aan ‘n Florence Nightingale kan kom. Só erg is haar drang om weerlose diere te red dat sy sweerlik selfs ‘n mank duisendpoot (shongololo) se been sal probeer spalk.

Reni en die vrolike papegaai Maxi wat nou 20 jaar oud is. Maxi was 10 jaar oud toe sy erg gestres en sonder vere by Reni beland het nadat sy verskeie vorige eienaars gehad het.

Dié ma van twee tienerdogters, Cari (14) en Vanya (16) wat sy self op die plaas onderrig, leef boonop nou haar droom om ‘n veearts te word op ‘n onortodokse manier uit. Sy het as “diere-redder” deur die jare soveel by veeartse geleer dat sy al self die meeste noodhulp- en behandelingstegnieke kan toepas op die hordes diere wat deesdae ‘n veilige hawe by hulle op die plaas gevind het. Sy kan self wonde ontsmet en verbind, steke insit, medikasie gee en vir uiterste noodgevalle is daar ‘n mobiele veeartsenypraktyk net 40 km van die plaas af. Geen wonder dat twee buitelandse veearts-vriende wat onlangs by hulle gekuier het, gesê het sy is klaar net so goed soos ‘n veearts nie. Kamanjab se eie, nie-amptelike boere-veearts en sielkundige! 

Reni by Gansie en Debbie die hen. Gansie het as kuiken `n ernstige beenprobleem gehad en moes baie fisio en swemoefeninge kry, maar het herstel. Debbie het al die pad van Swakopmund af gekom om ‘n heenkome op Bubu’s Animal Haven te vind.

Dié boorling van ‘n plaas buite Otjiwarongo het al van kleindogtertjie-dae af al wat ‘n weesdiertjie is huis toe aangedra om te troetel en te versorg. Tipies plaaskind was sy ook ‘n kranige ruiter wat gereeld aan uithouritte deelgeneem het. Dit was juis tydens so ‘n uithourit-kompetiesie in die noorde in 2000 dat sy en Rinus mekaar “raakgery” en in 2003 die knoop deurgehak het. 

Reni, Rinus en Vanya tussen die groot verskeidenheid bokke op die oord

Rinus bestuur sedert 2013  die beesplaas vir die eienaar wat in Duitsland woon. Dit het Reni nie lank geneem om beseerde en hawelose diere in die Kamanjab-omgewing soos ‘n magneet na haar te trek nie en haar reputasie as “diere-redder” het mettertyd landwyd deur die riemtelegram versprei. Of dit nou ‘n halfdood kalfie op die plaas, ‘n verstote konyn in Walvisbaai of ‘n depressiewe huiskat is wat iewers wegkyn in ‘n dierebeskermingsvereniging se hok – almal het by Reni beland.

Reni tussen die klomp volstruise op Bubu’s Animal Haven

Die uiteinde? In 2021 stig Reni in samewerking met ‘n paar vriende haar eie, amptelike natuuroord vir verwerpte, beseerde of verstote diere op die plaas. Die naam Bubu’s Animal Haven kom van ‘n optelvoëltjie wat sy op ‘n keer spesiaal in Otjiwarongo moes gaan haal het. Die “swaeltjie met die lang bene” is toe al die tyd ‘n gevlekte lyster wat vandag ‘n koninklike lewe saam met tientalle ander diere lei op die oord wat sy naam dra. Dit is ‘n private nie-winsgewende organisasie sodat Reni minstens bydraes van die publiek kan ontvang om al die oorhoofse koste te help dra. “Dit is baie duur om te registreer as ‘n nie-winsgewende organisasie onder Artikel 21, maar ek hoop om mettertyd as ‘n welsynsorganisasie onder die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste te registreer”, sê sy. 

Gevra hoeveel en watter diere tans op Bubu’s Animal Haven woon en versorg word, is daar ‘n stilte … Die vraag moes eintlik wees watter diere is daar nie, want alle diere raak oud, sieklik of beseer en Reni sal dit nooit oor haar hart kry om enigeen weg te wys nie. Daar is hoenderhokke vol hoenders, ‘n groot voëlhok vol papegaaie en ander voëls, ganse, konyne, tarentale, skilpaaie, volstruise, papegaaie, ‘n ou melkkoei, ‘n half-blinde kalfie wat sy gered het, honde, katte, bokke en beeste – almal wat iewers langs die pad verdwaal, verwerp, beseer, sieklik of te oud geword het om in die natuur te oorleef.

Groot voëlhokke met allerhande voëlspesies wat iewers langs die pad beseer of verlore geraak het

Die jongste toevoegings is ‘n swart kat, Zia, van Walvisbaai en ‘n 4-dae oue springbokkie wie se ma deur roofdiere gevang is. Zia het so depressief in ‘n DBV-hok in Walvisbaai geword dat sy glad nie wou sosialiseer nie en heeltyd net opgekrul in ‘n hoekie lê en treur het. Kanse vir aanneming was skraal omdat swart katte gewoonlik die laastes is wat huise kry. Sedert Zia saam met vier ander katte by Reni-hulle in die huis woon, is die depressie weg en speel sy heerlik buite met die ander katte. Die springbokkie sterk goed aan op bokmelk danksy die 50 melkbokke wat genoeg melk vir al die diere verskaf. Volgens Reni is dié bokmelk hoogs verteerbaar vir enige kleinding se stelsel. Sy maak ook Feta- en Gouda-kaas van die melk wat sy verkoop om weer te help om die diere te onderhou.

Reni by Zia wat ‘n nuwe lewe by Bubu’s Animal Haven gekry het

Dis juis om ander verwerpte katte soos Zia te help wat in DBV-hokke vergaan dat Reni nou geld moes insamel vir haar katprojek. ‘n Ou karavaan op die plaas moet nou herbou en omskep word om nog katte te huisves wat nie ander heenkomes kan vind nie. Afskortings word ingebou sodat die katte aanvanklik die eerste 3-4 weke daar toegemaak kan word om gewoond te raak aan hul nuwe tuiste. “As jy hulle nie aanvanklik binne hou nie, sal hulle weghardloop. Kos, water, sandbakke en genoeg luggate en speelgoed maak dit ‘n veilige plek waar hulle kan aanpas totdat hulle gereed is om ook buite rond te loop”, sê Reni.

Dis mos harde werk en baie geld om soveel diere te versorg en te voed? Die mense gaan haar mos gruwelik misbruik as sy alle wegggooi-diertjies moet inneem en versorg?

Die klomp melkbokke verskaf genoeg melk vir al die diere en Reni maak en verkoop ook kaas daarvan

“Ek kan nie bekostig om ‘n voltydse handlanger aan te stel nie, so ‘n plaaswerker help my sommer. Cari en Vanya is ook lief vir diere en help my baie. Wanneer mense bel oor ‘n dier wat versorging nodig het, vra ek of hulle bereid sal wees om met kos of ‘n bydrae te help. Die meeste mense doen dit darem en ons kry gereeld kosskenkings”, sê Reni. 

Reni by Benji, ‘n verwaarloosde rondloperhondjie wat hulle uit die bosse gered het. Benji sterk goed aan en kry nou chemobehandeling vir kanker

Die tuisonderrig wat sy met Cari en Vanya doen, is op ‘n Duitse onderwysstelsel geskoei. Sy weet nog nie of een van hulle in haar voetspore gaan volg om met diere te werk en dalk veeartsenykunde te studeer nie. “Dis te vroeg om te sê. Cari stel in dié stadium baie belang in fotografie en neem klaar al die foto’s vir ons sosialemedia-platforms. Tyd sal leer, maar ek is nou in my element om voltyds my droom uit te leef en boonop ‘n gesin te hê. Dis seker meer as waarvoor enige mens kan vra.”

Cari se eerste “professionele werk” is hoeka om vir Agriforum ‘n paar unieke foto’s van die Bubu-diereoord en die wye verskeidenheid diere te neem wat nou ‘n heerlike heenkome in die natuur gevind het by hul mensma met die kombi-hart vir enige dier in nood.

Cari neem al die foto’s vir hul sosialemedia-netwerke en het ook al dié foto’s geneem.

*Mense wat betrokke wil raak of bydraes wil lewer vir dié grootse projek kan op Bubu’s Animal Haven se Facebook-blad of Instagram meer besonderhede kry.

Ziegie, die pragtige boerbok was so erg deur `n luiperd op die rug gebyt dat die vleis begin vrot het. ‘n Veearts het gesê daar is nie hoop nie, maar Reni het aangedring dat die wond skoongemaak en dreineringspype ingesit word. Na 4 maande se intensiewe behandeling het sy gesond geword en maak nou ‘n lam groot.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *