Sy sien haar lewe as toegewyde boer nooit weer sonder ‘n Australiese beeshond nie. “Ek kan maande en jare oor hulle praat, so spesiaal is hulle,” sê Henriette le Grange, bekende Braunvieh-teler van die Summerdown-omgewing.
Volgens haar het dié honderas ‘n ingebore instink om met beeste te werk. “As die bulle baklei, sê ek net ‘vat hulle’, dan maak die honde hulle uitmekaar. Ons gebruik hulle ook om troppe aan te jaag, want soos ons beeste ken, gaan steek hulle soms viervoet vas of maal. Hulle byt ook nie die beeste nie.”
Henriette wys wel daarop dat Australiese beeshonde net een persoon aanvaar en ook net opdragte van daardie persoon uitvoer. “Hulle sal daardie persoon ook met hand en tand beskerm, maar nie noodwendig eiendom nie want hulle is nie waghonde nie maar werkshonde.”
Aanvanklik het die Le Granges vier van hulle gehad waarvan drie Henriette aangeneem het en een haar man, Lourens.”
Die aanvanklike reun en teef het vier geword toe die teef eers een kleintjie en toe nog ‘n kleintjie gekry het. “Ons het haar daarna gesteriliseer. Net een van die honde leef nog, en is amper 18 jaar oud. Aanvanklik het ek gehuiwer om nog van hulle aan te skaf uit vrees dat hulle my gaan oorleef. Op die ou end het ek nou weer een bestel van die Warmbad-teler Hennie Badenhorst.”
Henriette voeg by sy voel baie veilig op die plaas wanneer Lourens nie tuis is nie. “Ons beeshonde bly in die huis waar ons opdragte aan hulle verskil deur byvoorbeeld met die hand te beduie as hulle moet uitgaan. Kom daar vreemde mense aan, sal die beeshonde altyd tussen my en die besoeker beweeg. Wanneer ek tuis is, is die werkers uiters versigtig om op die werf te kom, maar as ons weg is, ontvang honde die werkers in goeie luim.”
Sy waarsku egter dat die Australiese beeshond glad nie ‘n dorpshond is nie. “Hulle het baie oefening nodig en hulle moet werk.”
Hennie Badenhorst van Onseepkans
Nog ‘n Namibiese boer wat al jare lank ‘n hele paar Australiese beeshonde op sy plaas Velloosdrift naby Onseepkans langs die Oranjerivier aanhou, is Hennie Badenhorst. Hennie teel deesdae hoofsaaklik met Arabierperde en gebruik sy beeshonde sedertdien uitsluitlik as waghonde op die plaas. Tussen hom en sy dogters, Susan en Danelle, het hulle sewe van dié beeshonde – vier tewe en drie reuns – waarmee hulle nog teel.

“Jy sal nie sommer ‘n beter en meer lojale waghond kry nie. Hulle is vreesloos en sal jou en jou eiendom met hul lewe beskerm. Die nadeel is dat hulle voltydse aandag nodig het en nie alleen gelos wil word nie. As hulle ‘n band met jou gevorm het, is hulle lewenslank jou skaduwee.”
Hennie vertel hoe Danelle se een hond op ‘n keer letterlik berserk geraak en deur die kamervenster gebreek het toe sy alleen iewers heen gery het. “Hy het kilometers ver na die buurplaas gehardloop om haar te gaan soek. Dis nie ‘n hond wat jy sommer alleen kan los as jy iewers heen wil ry nie.”

Hoewel Hennie voorheen sy beeshonde as werkhonde op sy kleinvee- en beesplaas gebruik het, het die langdurige droogtes hom laat oorskakel na die perdebedryf. Deesdae span hy eerder veewagters in vir die oorblywende skape en beeste en gebruik die beeshonde as voltydse waghonde by die huis weens die stygende misdaad.

“As opgeleide werkhonde was hulle uitstekend om kleinvee en beeste aan te keer, op te pas en te beskerm teen roofdiere en veediewe. Hulle is baie slim en laat hulle deur niks of niemand intimideer of afskrik nie. Soos met alle werkhonde, is ‘n goeie bloedlyn en deeglike opleiding in die eerste twee jaar noodsaaklik. Sedert ek hulle nie meer as werkhonde gebruik nie, ry hulle oral saam met my in die bakkie. Wanneer Danelle maande lank weg is met haar veeartsenystudies op Onderstepoort, bly haar honde die hele tyd onder haar bed en wag vir haar.”

Hennie waarsku teen verbastering van dié bloedlyn in Namibië omdat boere selde die koste en beslommernis wil aangaan om honde by die Suid-Afrikaanse Telersvereniging te laat registreer. Hy meen dié onbeheerde verbastering is ‘n algemene verskynsel in Namibië en kan die ras se sukses as kuddewagters benadeel.

- Australiese beeshonde stam blykbaar van kruisteling tussen die Blue Merle en die Australiese wildehond, die dingo, deur die Britse Setlaars in die laat 800’s. Hulle is spesifiek geteel om skape en beeste aan te jaag oor lang afstande en veral oor moeilike terrein. Voorbeelde hiervan is te sien in die rolprent Australia.
- Die honderas kom voor in twee verskillende kleurskakerings: grys en swart (Blue Heeler) of wit en rooi (Red Heeler). Volwasse Australiese Beeshonde weeg sowat 20 kilogram. Ondanks hul relatief ligte gewig, is hulle baie sterk en stewig en word gemiddeld tussen 12 en 14 jaar oud.
- Hierdie honde is vinnig, gehard, veelsydig en intelligent en kan baie maklik opgelei word om diere uit gate te jaag of spoor te sny. Hulle word nie maklik beseer of afgeskrik nie. Beeste wat 800 kg of meer weeg word maklik aangejaag en in die regte rigting gestuur. Hoewel hulle geneig is om ‘n bietjie rof met kleinvee soos skape en bokke te werk, kan hulle deur goeie en deurlopende opleiding en toesig ook doeltreffend by kleinvee ingespan word.
- Hoewel Australiese beeshonde nie van nature jaghonde is nie, kan hulle selfs geleer word om te jag. Hulle raak baie geheg aan hul eienaars en leer graag nuwe vaardighede om hulle te beïndruk. Hul vreesloosheid en gehardheid maak hulle ook uitstekende waghonde wat hul eienaars tot die dood toe sal beskerm. Mense en diere wat nie in jou erf of naby jou huis hoort nie, word vinnig verjaag. Daarbenewens is hulle ook goed met kinders en baie beskermend teenoor hulle.
- Omdat Namibiërs se Australiese beeshonde by die Suid-Afrikaanse Beeshond-telersvereniging geregistreer moet word en intensiewe en deurlopende opleiding as kuddewagters verg, is die gevaar van onbeheerde kruisteling ‘n groot probleem. Dié honderas verg baie aandag en omdat hulle so ‘n sterk band met hul gesin vorm, wil hulle nooit alleen gelaat word nie. As hulle nie genoeg aandag en opleiding kry kry nie, kan hulle baie aggressief en destruktief wees.