Weskus-mooi . . . Die Weskus met sy ryk en kleurvolle geskiedenis bly maar ‘n fassinerende plek vol uiterstes en kontraste . . . Baie van die boere wat hulle sedert die vroeë 1800’s in die omgewing van Lambertsbaai (Otterdam) kom vestig het, se nasate boer en woon steeds in dié grootliks ongerepte Sandveld . . .


Van Puttensvlei, Steenboksfontein, Elandsbaai en plase in die omgewing huisves almal ‘n skatkis van staaltjies en verhale uit vervloë jare toe Britse oorlogskepe tydens die Anglo-Boere-oorlog gereeld by die Otterdam-hawe besoek afgelê het . . . Min mense het seker die geskiedenis van die Lambertsbaai-omgewing beter geken as wyle Kitta Burger:
https://www.youtube.com/watch?v=s681FFnhNSU
Ongelukkig sukkel die Lambertsbaai Museum soos alle ander kultuur-historiese instansies in SA deesdae om finansieel te oorleef sedert hulle geen finansiering van enige owerheid meer ontvang nie . . . Dit sal ‘n ramp wees as die geskiedenis en historiese aandenkings in dié geboutjie verlore moet gaan.

Die unieke karakter en eiesoortigheid van dié omgewing en sy mense het gelukkig nog in ‘n mate behoue gebly waar almal lief is vir die natuur en grootliks daarvan afhanklik is – of dit nou boerderye (landbou) of gastehuise en eetplekke (toerisme) is – dis die natuur wat besoekers lok na dié omgewing met sy unieke bekoring en diversiteit.
Waar anders kry jy nog ‘n slaghuis met ‘n spoggerige bobbejaan en tientalle bok-oë wat kliënte van die mure af dophou soos wafferse sekuriteitswagte . . .



of ‘n museum wat deur ses groot wyfie-bergskilpaaie en talle ander kleineres opgepas word . . . Tipies wyfies baklei die skilpaaie gereeld deur mekaar te probeer omdop (foto – vir dié wat gedink het hulle is in ‘n romantiese liefdespel gewikkel)

En waar speel kinders op ‘n Vrydagmiddag nog so sorgeloos saam buite wyl hul ouers jaag om die laaste aartappel-oes gereed te kry vir die mark vóór die naweek se uitvaltyd?
Bekende “surfing spots” in die Weskus (Foto’s: Anica Burger)



