Elandsbaai Hotel – Ware Weskus op sy beste

Die Elandsbaai Hotel is al geslagte lank die middelpunt waar rondom die ongerepte Sandveldse kusdorpie Elandsbaai in die vroeë sestigerjare geleidelik ontstaan, ontwikkel en gegroei het tot die gesogte vakansie- en toeristebestemming en branderplankry-mekka wat dit vandag is.

Dis by dié gesellige lekker-kuier-hotel in die hartjie van die unieke en diverse Sandveldse biosfeer waar jy die ware Weskus-lekkertes en móói nog werklik kan sien, vóél, próé en belééf. Ongekunsteld, onopgesmuk en outentiek weerspieël dié hotel se interieur nog ‘n ouwêreldse bekoring van ruimte, warmte en basiese gerief waar vissermanne, surfers , wêreldreisigers en deftige gaste ewe gesellig saam kan verkeer en stories uitruil.

Die groot, karaktervolle kroeg met ‘n aangrensende biljartspel-vertrek is saans en in die koue wintermaande die hartklop van die hotel en die locals se bymekaarkomplek waar die dag se lief en leed met kwinkslae en kroegpraatjies reggedokter word. Enige reisiger sal jou vertel as jy werklik ‘n dorp en sy mense wil leer ken, hoef jy net ‘n paar aande in ‘n plattelandse hotelkroeg deur te bring. Dis waar die (vis)stories en staaltjies ontstaan en dikwels stertjies kry en volksbesit word. Die Elandsbaai-hotel is een van die min kusdorp-hotelle waar dié tradisie nog spontaan voortleef.

Die ruim eetlokale met A La Carte spyskaart en ‘n dameskroeg bied ‘n ononderbroke uitsig op die pragtige kuslyn met sy wit strande en die Baviaansberge en Bobbejaankop in die agtergrond. Dit is ook die ideale plek vir spesiale funksies soos troues en onthale asook vir konferensies en partytjies. Die aangrensende buitelug-area is in seisoentyd deurlopend ‘n kleurvolle miernes van bedrywighede.

Geleë sowat 220 km vanaf Kaapstad op die see-monding van die vrugbare Verlorenvlei-moerasagtige vleiland met sy ryk voëllewe wat strek vanaf Redelinghuys in die suide, bied dié kusdorpie die beste van twee wêrelde – die ryk vis- en kreefvangste uit die see se spens plus die plaasvars landbouprodukte van omliggende plase wat al geslagte lank sedert die laat 1700’s in dieselfde families behoue gebly het. Geen wonder die sanger Basjan het destyds spesiaal ‘n liedjie oor Elandsbaai geskryf wat ook deur die Weskus-sangpaar Wynand en Chereé Strydom verder geneem is nie. (Kyk onderaan vir Basjan se oorspronklike video).

Elandsbaai se eie liedjie deur sy eie Weskus-mense – Wynand en Chereé Strydom

Dis egter nie net die lekker seekos en kuiers wat die Elandsbaai-hotel so ‘n gesogte aantrekking maak nie. Die diverse en ongerepte natuurskoon van dié omgewing maak dit ‘n paradys van wêreldgehalte vir alle natuurliefhebbers en avonturiers wat ‘n bietjie die Weskus se goedbewaarde wegsteekplekkies wil verken. Daar is geen ander plek ter wêreld waar so ‘n wye verskeidenheid van seldsame fauna en flora en geologiese diversiteit in so ‘n klein area voorkom nie. Die Kaapse Weskus-biosfeer strek vanaf Tafelberg en sluit vyf flora-substreke in – insluitende die Sandveld en die Weskus–bioom. Inheemse plantspesies vorm ‘n groot deel van die algehele flora, waarvan 127 plantspesies (8,4%) op die Rooidata-lys vir beskermde spesies is.

Het jy geweet die naam Elandsbaai is ontleen aan die kultuur-historiese rotstekeninge in dié omgewing wat onder meer groot elande uitbeeld? Die area aan die mond van die Verlorenvlei waar die dorp ontstaan het, was vroeër ook bekend as Zeekoe Valey, Zandrivier, die Boesmannaam Quaema (Lonely Vlei of Lostpan) totdat dit uiteindelik Elandsbaai geword het. Die rotstekeninge en ander argeologiese oorblyfsels dateer uit die Middel- en Laat-Steentydperk toe elande en ander kleinwild nog volop hier voorgekom het. Die San-bewoners het die eland as ‘n spirituele wese beskou.

In die lente – veral na ‘n goeie winterreën-seisoen – word die hele Weskus omskep in ‘n kleurryke blomparadys wat derduisende besoekers van heinde en ver lok. Vanjaar was die blommeprag rondom Elandsbaai tot teen die Verlorenvlei-monding van die mooiste in jare. Die Verlorenvlei-vleiland is ‘n beskermde Ramsar-gebied wat meer as 300 voëlspesies huisves.

Elandsbaai se branders is ‘n gesogte bestemming vir plaaslike en internasionale branderplankryers en ander watersport-aktiwiteite. Foto: Anika Burger

Soos alle kusdorpe spog Elandsbaai ook met ‘n ryk en kleurvolle geskiedenis wat uit die Khoisan-tydperk van 30 000 jaar gelede dateer. Verskeie grotte in die omgewing huisves nog waardevolle argeologiese oorblyfsels en Boesmantekeninge uit dié vervloë tydperk. Die Elandsbaai-grot is ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Staproetes deur die diverse Sandveldse landskappe om dié kultuurhistoriese erfenisse te besoek, word ook aangebied. * Kyk heel onder.

Die grond waarop die dorp Elandsbaai geleidelik sedert die vroeë 1900’s ontstaan het, behoort steeds grootliks aan die Engelbrecht-familie – Giepie en Willem Engelbrecht – wat albei steeds in die omgewing boer met onderskeidelik aartappels en beeste/skape. Dis egter die ryk seelewe en veral die Weskus-kreef (Jasus Lalandii) wat mense sedert die vroeë 1900’s na dié kusgebied gelok het en tot die ontstaan van die dorpie en die kreeffabrieke gelei het.

Volgens oorlewering het Boesmans in die somer van die binneland af hierheen gekom om seekos vir die winter bymekaar te maak. Die swartmossels wat hulle uit die skulp gehaal het, is aan doringbossies gehang om droog te word, wat die mossels aansienlik laat krimp het. Wanneer hulle wou kosmaak, is die mossels in vars water gesit om dit weer tot die oorspronklike grootte te laat uitswel. Dié gesogte seekos-lekkernye het spoedig ook blanke boere uit die binneland hierheen gelok.

Van die eerste blankes wat hulle hier kom vestig het, was Jaap van der Westhuizen, Jan Scott, Coenraad Smit (Saais), Koos Hunter (Jam) en Willie Engelbrecht. Willie Engelbrecht het glo destyds met ‘n rooi Volkswagen kewer uit Malmesbury se wêreld hier aangekom en het blykbaar die eerste kreef gevang. Daarna het Jaap van der Westhuizen en sy seun Jacob begin kreef vang. Jacob was die amptelike roeibakkie-bouer. Destyds is die kreefbakkies nog in en uit die water gehys.

Die eerste kreeffabrieke – Elandsbaai Handelsmaatskappy (EHM) van Giepie Engelbrecht en Van der Westhuizen Visserye is destyds gebou waar die landingstrook nou is. Ironies genoeg is EHM se naam nou Changing Tides en is dié fabriek en Troyann Foods langsaan die enigste wat nog in bedryf is. Politieke inmenging en drakoniese kwotabeperkings het dié eens florerende vis- en kreefbedryf stelselmatig op sy knieë gedwing sodat ekotoerisme, landbou en ekolandbou nou ‘n noodsaaklike rol in die omgewing se ekonomie speel.

Destyds se kreefbakkies toe ‘n seisoenale kwota vir kommersiële vissers nog 100 ton (100 000 kg) was (1969) vergeleke met die skrale kwota van 5 000 kg (5 ton) in 2023 . . .

Die personeel by Changing Tides onder leiding van Jan Martin (Manties) – heel regs – wat al 46 jaar lank hier werk, hoop maar dié seisoen wat op 15 November afgeskop het en tot einde Maart 2024 duur, sal goeie vangste en kos op die tafel oplewer . . . Die eerste kreefboot is eers op 29 November uit om die waters te gaan toets . . .

Terwyl die manne wag vir die kreefseisoen om spoed op te tel, vang hulle maar solank watter vis ookal beskikbaar is – snoek, geelstert, hotnosvis en gurnet is die volopste in dié omgewing.

Die Elandsbaai Hotel is in 1964 voltooi. Dit het destyds net 14 kamers en twee gesamentlike badkamers gehad.

Vandag spog die hotel met 14 gerieflike ensuite kamers wat altesame 37 gaste kan huisves, asook ‘n Backpackers-eenheid en ‘n selfsorgeenheid wat onderskeidelik 22 en vier gaste kan huisves. Die bestaande ses karavaanstaanplekke op die perseel sal na verwagting aanstaande jaar uitgebrei word tot 20 +.

Die personeel van die Elandsbaai Hotel is vriendelik, vlytig en geniet die werk wat hulle doen in hul gunsteling-plek by die see . . .

Elandsbaai se sjefs en kombuispersoneel wéét hoe om watertand-kreef en seekosdisse vars uit die see op te tower
Elandsbaai Hotel se personeel meen hulle woon en werk in die paradys!

Die hotel se bekende drankwinkel met ‘n goeie voorraad van die plaaslike gemeenskap se voorkeur-drank is altyd ‘n bonus en is saam met die hotel ná dekades steeds die dorp se hoofslagaar.

Vir lekker eet, kuier en die omgewing verken is Elandsbaai Hotel die plek om te wees!

https://elandsbayhotel.co.za/

Basjan se oorspronklike liedjie wat hy spesiaal oor Elandsbaai geskryf het.

Elandsbaai se kuslyn is ideaal vir branderplankry, swem, hengel, strandstap en ander wateraktiwiteite. Foto: Anica Burger

Lekker doen-dinge en besienswaardighede in en rondom Elandsbaai:

Besoek die Elandsbaai-grot en leer meer oor die vorige bewoners se lief, leed en leefstyl.

Staproetes: https://www.west-coast-info.co.za/region/events/3260/silent-steps-shoreline-of-the-san-hiking-trail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *