Sanger Shane Sonkind oorleef huisbraak en mesaanval, maar ontnugter in Polisie

“Die Polisie weet presies wie die verdagte en sy maat is. Hulle weet waar hy woon en hulle ken sy familie, maar niks word aan die saak gedoen nie.”

Die afgelope maand was NIE ‘n sonskynmaand vir Langebaan se bekende musikant Shane Sonkind, ofte wel Shane Heynie (35) nie.

Eers is daar by sy motor ingebreek, toe word sy motor amper afgeskryf in ‘n ongeluk en Sondagaand is baie van sy hartsgoed gesteel toe daar by sy blyplek ingebreek is. Boonop het die booswigte later dieselfde nag teruggekom – gewapen met messe en vermoedelik ook ‘n wegkom-voertuig om groter besittings te kom haal wat hulle nie te voet met die eerste probeerslag kon wegdra nie.

Danksy sy ratsheid en vlugvoetigheid is Shane nie raakgesteek toe hy die twee verdagtes agternagesit en hulle hom met messe probeer steek en gejaag het nie.

Vier dae later is Shane egter moedeloos en baie ontnugter in die Langebaanse Polisie. Niemand is nog aangekeer nie, hoewel die twee vroue-offisiere wat Sondagaand aan diens was, blykbaar presies weet wie die gewoontemisdadiger is wat hy twee keer op foto’s uitgeken het. “Hulle weet waar hy woon en wie sy meeloper is, maar niks is nog omtrent die saak gedoen nie.”

shaneyes

Shane se riller-ervaring het Sondagaand net voor middernag begin toe hy en sy meisie, Jessica, by hul huurhuis naby die see in Hoofstraat opdaag en sien die voordeur is op ‘n skrefie oop. Hulle het dadelik onraad vermoed. Laaie was oop en daar was duidelik in hul goed gekrap.

By nadere ondersoek is ontdek ‘n skootrekenaar, al vier selfone, musiekinstrumente, CD’s en duur mikrofone, asook Jessica se handsak met beursie, ID-dokument en persoonlike besittings is gesteel. Waaroor Shane die hartseerste is, is dat die booswigte ook vort is met die diktafoon waarop hy vyf jaar se melodieë, lirieke en musiek-idees opgeneem en gestoor het.

“Dit is vyf jaar se werk en inspirasie wat net weg is. Ek is darem bly hulle kon nie die groter klanktoerusting soos my ‘speakers’ te voet hier wegdra nie – dis seker hoekom hulle teruggekom het,” het hy gister gesê.

Ná Sondagnag se skokontdekking is Shane en Jessica dadelik te voet na die Polisiekantoor waar hulle die saak by die twee vroue-offissiere wat aan diens was, aangemeld en verklarings afgelê het. Die Polisie sou die volgende oggend die saak opvolg.

Nog was dit het einde niet. Die paartjie was skaars terug by die huis, toe Shane hoor hoe iemand die voordeur probeer oopmaak. Die deur was gelukkig gesluit en hy het saggies nader gegaan, oopgesluit en die deur oopgepluk. Twee verdagte mans met “hoodies” op het ‘n paar meter verder in die straat afgestap. Toe Shane hulle instinktief agternasit, het hulle hom gevloek, messe uitgepluk en wild na hom begin steek. “Ek het gekoes en toe ek probeer wegkom, het hulle my van weerskante af gejaag. Gelukkig is ek rats en kon ek hulle ‘dodge’ en ongedeerd by die huis uitkom.”

By die huis het Jessica vertel ‘n verdagte voertuig het laer af in die straat vinnig weggejaag toe Shane die verdagtes agternagesit het.
Doodmoeg, gestres en sonder ‘n enkele selfoon of ‘n motor, is Shane weer te voet Polisiekantoor toe. Hy het een van die verdagtes se gesig duidelik gesien en sou hom kon uitken. Shane is toe saam met een van die vroue-offisiere en vermoedelik ‘n sekuriteitswag met die Polisievoertuig daar weg om die verdagte voertuig te soek. ‘n Sekuriteitswag by Kalmer Karma het hulle voorgekeer en gesê hy het “aksie” in die straat gesien en die naam van ‘n bekende verdagte genoem wat ooreenstem met Shane se beskrywing.

Ná ure se gesukkel en gesloer om die verdagte voertuig te probeer opspoor, asook om ‘n foto van die betrokke verdagte op Facebook en sosiale media te soek omdat hulle nie een in die Polisie-databank kon kry nie, het Shane die man positief uitgeken. Hy is weer saam in die Polisievoertuig na die verdagte se huis in Hopland, maar niemand het geantwoord toe hulle klop en roep nie. “Daarna het ons in die strate rondgery en na die verdagtes gesoek, maar niks gekry nie. Die Polisielede het nie flitsligte by hulle gehad nie en dus kon ons ook nie veel in die donker sien nie – hulle het die hele tyd gesê hulle wens hulle het flitsligte,” het Shane vertel.

Shane is eers in die vroeë oggendure huis toe.

“Maandag het ‘n inspekteur eers 11h00 hier opgedaag, maar hy het niks van die tweede voorval geweet nie en was vies dat die nagskof-personeel hom nie eens ingelig het nie. Ek is weer Polisiekantoor toe om die verdagte tussen foto’s van vyf ander mans uit te ken en kon hom dadelik uitwys. Die inspekteur sou ‘n span na die verdagte se huis stuur . . . maar tot vandag toe het ek nog niks weer gehoor nie. Niemand het nog kom vingerafdrukke neem of ‘n dossier oor die tweede voorval geopen nie. Dit was ‘n poging van gewapende roof en as hulle die deur kon oopkry, sou hulle ingekom het met daardie messe – en wat dan?”

“Ek is gelukkig dat ek nie raakgesteek is nie – dit is poging tot moord. Ek verstaan nie dié absolute onbevoegdheid en tydmors nie. Ure is gemors om ‘n foto van ‘n gewoontemisdadiger te kry. Die Polisie weet presies wie die verdagte en sy maat is. Hulle weet waar hy woon en hulle ken sy familie, maar niks word aan die saak gedoen nie. Toe ek wou weet wat die kanse is om my gesteelde goed terug te kry, is ek vertel die diewe gaan verkoop dit dadelik in die Kaap. Maar niemand het eens ‘n poging aangewend om dit te soek nie. Ek het Maandag vir my ‘n flitslig gaan koop en self op die strand en in die omgewing gaan soek om te kyk of hulle nie van die goed voorlopig iewers weggesteek het nie.”

Langebaan se waarnemende Polisiehoof, Kaptein Christo van Wyk, het gister nie sy foon geantwoord of gereageer op ‘n dringende boodskap om kommentaar te lewer nie.

* Kapt. Van Wyk het ‘n paar maande gelede gemaan dat huisbraak en diefstal uit voertuie, asook georganiseerde misdaad skerp toeneem. Verlede week is derduisende rande se elektroniese toerusting in twee afsonderlike voorvalle by huise in Langebaan Country Estate en Villa Diamanté gesteel en dié week was daar weer ‘n poging tot huisbraak in Villa Diamante. In die laaste geval het die huisbewoner die dief op heter daad betrap en probeer vang, maar hy het weggekom. Dit was ook ‘n bekende gewoontemisdadiger van Langebaan wat aan die Polisie bekend is, maar wat steeds vry rondloop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *