OPE BRIEF UIT DIE HART:
“Vir my het die vergadering sommer met ‘n slegte smaak in die mond begin toe ek hoor dat burgemeester Marius Koen nog onderweg is van Kaapstad en laat gaan wees. Raadslid André Kruger het voorgestel ons moet solank sonder hom begin, maar ek was geskok dat hy later stilweg ingesluip en heel agter gaan sit het sodat niemand eens geweet het hy is daar nie. Dit is vir my skokkend en ongehoord dat ‘n burgemeester nie voor inkom en by sy raadslede gaan sit nie.
Die raadslid vir Wyk 6, waaronder die meeste van ons se besighede val, is Dries Venter. Hy moet ons verteenwoordig het, maar hy speel by elke vergadering sekretaris en neem notules en kon net sowel nie daar gewees het nie. Die waarnemende munisipale bestuurder, Jacques Marais en die ander raadslede was ook almal tjoepstil en het nie ‘n woord gesê nie. Dis asof André Kruger al die toutjies trek en die ander sy skoothondjies is?
Ander dinge wat my opgeval en ontstel het:
1. Die verteenwoordigers van die raadgewende ingenieurs, Nadeson en die kontrakteurs RJ Mullins Civils en SBM se ingenieur, Gerrit Smith, het in sirkels gepraat en mekaar openlik ondersteun. Dit het gelyk asof hulle voor die tyd vergader het en die hele voorlegging is so aangebied om mekaar te beskerm, sodat niemand op die einde aanspreeklikheid aanvaar nie.
2. Dit lyk of die nuwe projekbestuurder wat nou aangestel is, Etienne Swanepoel, nou almal se knoeiwerk moet kom regmaak en hul basse moet kom red? Dit is my opinie dat SBM se tegniese direkteur en sy span, asook die kontrakteurs, die afgelope nege maande nie hul werk behoorlik gedoen het nie. Of dit uit onkunde of laksheid is, sal ons nie weet nie. ‘n Mens wonder of die R2,4 miljoen wat die SBM moes bestee om te verseker dat die pad wel teen 6 Desember oopgestel sal wees, vir dié doel aangewend word.
3. Nadeson se ingenieur het verskeie kere genoem dat dit niks ekstra sal kos om bykomende ingange na die onderskeie sakesentrums te maak soos aangedui op die skets wat Moby Mobara by die eerste vergadering voorgelê het nie. Die SBM dring egter daarop aan dat dit eers deur die verkeersdienste goedgekeur moet word en daarna deur die raad. Ek glo die meeste van die gesloer en oponthoud is veroorsaak deur “red tape” en rompslomp van die SBM.
4) Toe vrae gestel is oor boetes vir spertye wat nie gehaal is nie, het RJ Mullins Civils se een verteenwoordiger gesê dat hulle vanaf 6 Desember R5 000 boete per dag sal moet betaal as hulle nie op datum is nie. Op die vraag wat die SBM met die boetegeld doen, is gesê dit word gebruik om die kontrakteur mee te betaal. Dit het my die kwaadste gemaak. Hoe kan jy ‘n maatskappy boetes laat betaal omdat hy agter is met sy werk, en dan later weer vir hom die geld teruggee? Met ander woorde, hulle kan solank as hulle wil vat, want hulle weet hulle kry hulle boetegeld terug. Dink hulle regtig ons is kinders? Geen logiese mens kan daai strooi glo nie!
5) Nie Nadeson of RJ Mullins Civils wou enigiets sê oor mnr David Byers nie. Ek was geskok om te hoor dat hy eintlik vir Nadeson en nie RJM werk nie. Hy het hom nog altyd voorgehou as iemand wat RJM verteenwoordig en nou hoor ons eers hy is net veronderstel om deel van die toesighouerspan te wees wat toesig oor die werkers hou. Wie het hom dan die reg gegee om vergaderings te probeer boikot en sakelui aan te spreek asof hy aan die hoof van die projek is?
6) Nadeson se verteenwoordigers het aangevoer hulle is al 27 jaar in die bedryf. Tog het twee afgetrede ingenieurs hulle reguit vertel dat hulle die grootste gemors denkbaar aangevang het. Volgens die SBM moet die nuwe pad 20 jaar diens doen. Tog het meer as een kenner opgestaan en gesê die pad sal binne 5 jaar oorgedoen moet word om die toename in verkeer te hanteer wat met die nuwe ontwikkelings kom.
, 7) Hoekom moet twee afgetrede ingenieurs aan ons mense die skoknuus gee dat dit die onbevoegde kontrakteurs 9 maande gevat het om slegs 33% van die projek te voltooi. Met minder as twee maande oor, moet hulle 67% van die werk voltooi. Weereens is dit mos ‘n onmoontlike taak. Maar hoekom sal hulle bekommerd wees – hulle kry mos hul boetegeld terug?
8) Sameroeper André Kruger was duidelik met sy rug teen die muur, op die verdediging en aanvallend. Deon Fouché het voor almal genoem dat hulle in 2015 ‘n vergadering gehou het waarvolgens die padprojek in September 2015 sou begin het en dat André dit uitgestel het. André het woedend reageer. Hy het hom net so vererg toe ek hom vra hoekom hy die hele tyd alles op ‘n tekort aan fondse blameer as hulle die vorige finansiële boekjaar miljoene rande onderbestee het op hul begroting.
9) Dit is ook vir my onaanvaarbaar dat die ontwerp van die nuwe hoofpad grootliks daarop gemik is om die middernagtelike gejaag van voertuie en motorfietse te bekamp. Jaagduiwels en spoed is dus ‘n probleem. Ek wou bloot hoor of dit nie goedkoper sou wees om verkeerskameras en verkeerslui daarvoor in te span nie. Nou moet ons besighede ly oor iets wat eintlik reggestel kon word deur eenvoudige wetstoepassing.
10) Elke vraag oor vergoeding vir die besighede wat finansiële verliese gely het (en steeds ly), is doodeenvoudig gesystap en geïgnoreer asof dit nooit gevra is nie.
11) Ek kan nie verstaan dat ons 9 maande sedert die aanvang van die projek steeds die kontrakteurs moet soebat vir duidelike padaanwysers/kennisgewingborde om aan toeriste, besoekers en plaaslike mense aan te dui waar en hoe hulle by besighede kan uitkom nie.
12) Ek het ‘n onderonsie met André gehad omdat ek nie dink hy het enige reg om so meerderwaardig met my te praat nie en sy sarkasme is ook onaanvaarbaar. Hy het my winkel twee keer besoek. Die eerste keer om stemme te werf voor die verkiesing en die tweede keer toe hy deur die burgemeester (Marius Koen) aangesê is om my en Rocky se winkels te besoek omdat ons Koen persoonlik gekontak het oor die swak posisie waarin besighede hulself bevind. Hy was by albei geleenthede baie aangenaam en met die tweede besoek was hy glo erg geskok en besorg toe hy self kon sien wat werklik aangaan. Sy reaksie teenoor my in die publieke vergaderings was skokkend. Soveel so dat hy my openlik om verskoning moes vra.
13) Ná die laaste vergadering voel dit asof alles wat ek probeer doen het vir die mense en die besighede ons niks gehelp het nie. Die enigste wenners van die aand was SBM en die twee betrokke maatskappye. Hulle het ‘n “nuwe besem” wat al die gemors moet kom uitsorteer (waarvoor ons betaal) en ons sit nog steeds waar ons altyd gesit het. Hulle het basies vir ons gesê dat hulle gaan “probeer” om op tyd klaar te kry en ons moet maar eenvoudig aanhou geld verloor.
Ek is op die oomblik nog besig om te probeer verstaan en uit te werk hoe ons munisipale leiers ons besigheidseienaars net so vir die leeus kan gooi en ons nie eens met respek aanspreek nie. Ek kry geen gevoel van empatie of deursigtigheid van ons leiers nie.
Ek sou skaam kry as ek voor my siel weet dat dieselfde mense wat om hulp skreeu, in rye gestaan het om vir hulle te stem sodat hulle die posisies beklee waarin hulle nou is. Solank hulle net hulle vergoedingspakkette en onverdiende salaristjeks kan kry, is hulle min gepla.
Hoe kan jy R2,4 miljoen rand beskikbaar stel om ‘n “nuwe” projekbestuurder aan te stel om jou onbevoegde personeel en nog meer onbevoegde kontrakteurs se gemors te kom regmaak en nie vir ‘n oomblik bereid wees om die werklike slagoffers op enige manier finansieel te help nie? Daar is baie voorstelle gemaak oor hoe hulle op geringe skaal vir ons ‘n bietjie verligting kan bring, maar dit is doodeenvoudig doodgepraat.
Hoe kan jy R2,4 miljoen rand beskikbaar stel om ‘n “nuwe” projekbestuurder aan te stel om jou onbevoegde personeel en nog meer onbevoegde kontrakteurs se gemors te kom regmaak en nie vir ‘n oomblik bereid wees om die werklike slagoffers op enige manier finansieel te help nie? Daar is baie voorstelle gemaak oor hoe hulle op geringe skaal vir ons ‘n bietjie verligting kan bring, maar dit is doodeenvoudig doodgepraat.
Ek praat namens myself as ek sê dat my basiese menseregte gruwelik geskend word en hulle direk verantwoordelik is om dit vir my moontlik te maak om ‘n bestaan te maak. Sowel as die werkers wat vir ons werk wat ook direk hierdeur geraak word as hulle sonder werk en ‘n inkomste gaan sit.
Ek is reeds besig om regadvies in te win by Southern Africa Litigation Centre. Law centre that promotes human rights and the rule of law in Southern Africa. Ek voel dit ook my plig om ‘n ope brief aan mnr Musi Maimane te skryf en te vra hoe dit moontlik is dat een van die belangrikste punte in die DA se manifes so gruwelik ondermyn kan word op plaaslike regeringsvlak. Die raamwerk van hul manifes is tog so saamgestel om werk te skep. Hy het by verskeie geleenthede tydens veldtogte en op TV gesê dat SA net op een manier gered kan word en dit is om meer werk te skep. Hy het plegtig belowe dat klein besighede ten volle ondersteun sal word omdat ons werksgeleenthede kan en sal skep.
In Langebaan was die die DA en LRRA voor die verkiesing so besig met binnegevegte dat ek dink die DA leiers daai deel van hul manifes dalk nie gehoor het nie. Elke liewe ding wat hier gebeur, is absoluut strydig met wat die DA die land belowe het.
Ek dink niemand sal die SBM raad regtig respekteer totdat hulle eers gaan leer het wat deursigtigheid beteken nie. Hier is net te veel “undercover” dinge wat aangaan en taboe is om te bespreek. Ek is ook nie die afskrif van die mandaat/kontrak vir die padbouprojek gegee soos skriftelik per epos aan my belowe is deur die burgemeester se kantoor nie. Volgens die epos sou die afskrif deur die Direkteur Tegniese Dienste (Gerrit Smith) aan my beskikbaar gemaak word ten tye van die vergadering.
Intussen lewe ek by my lewensmotto: “If you do not stand for something, you will fall for anything.”
Dus gaan ek nie net tou opgooi nie. Finansieel mag my winkel dit dalk nie oorleef nie, maar die hele SA sal my storie hoor. Come hell or high water. “